Bill Gates

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Unbalanced scales.svg Die neutraliteit van hierdie artikel (of dele daarvan) word tans betwis.
Wikipedia se beleid is dat alle artikels vanuit ’n neutrale standpunt geskryf moet wees. Sien die besprekingsbladsy vir besonderhede of ons riglyne wat kan help om die artikel meer onpartydig te maak.
Bill Gates

William Henry "Bill" Gates III (gebore Oktober 28, 1955) is 'n sakebestuurder en argitek vir rekenaarsagteware.

Belangrikste prestasies[wysig]

Bill Gates, Amerikaanse rekenaargenie en een van die eeu se mees suksesvolle sieners, het dit gewaag om Harvard op 19 te verlaat en Microsoft maatskappy te stig met 'n visioen van wat van 'n mikroverwerkervlokkie kan word. Vandag is hy die voorsitter en hoofsagteware-argitek van Microsoft Corporation, die wêreld se grootste sagtewaremaatskappy vir persoonlike rekenaars met 'n inkomste van $19,75 biljoen vir die fiskale jaar geëindig Junie 1999 en meer as 32 000 mense in sy diens in 60 lande.

Sedert die middelsewentigerjare het niemand 'n duideliker beeld gehad van hoe rekenaars sou ontwikkel nie. Gates se entoesiasme vir tegnologie het bekostigbare, kragtige rekenaars in die kantoor en huis gevestig en die boustene gelê vir 'n kommunikasiesnelweg. Die maatskappy se sukses het Gates een van die twintigste eeu se invloedrykste figure en die rykste man in die wêreld gemaak. In 1992 het Gates die Nasionale Medalje vir Tegnologie van President George Bush ontvang.

'n Kort lewensgeskiedenis[wysig]

William Henry Gates III is op 28 Oktober 1955 in Seattle (Washington) gebore as die seun van 'n prokureur en voormalige onderwyseres. Hy het onderrig ontvang by die Lakeside Hoërskool, 'n eksklusiewe privaatskool vir leerlinge met 'n sterk akademiese aanleg. Daar het hy vir Paul Allen ontmoet wat later saam met hom Microsoft sou stig.

In 1967 het Gates totaal verdiep geraak in 'n digitale opleidingsterminaal wat deur die Lakeside Mother Club met die opbrengs van 'n rommelverkoping aangekoop is. Gates en sy vriende was deur hierdie nuwe wêreld van rekenaars geboei en het 'n plaaslike rekenaarmaatskappy oorreed om hulle toegang tot die nuwe PDP-10, 'n nuwe minirekenaar, te gee.

Daar het hulle programmeringstale soos BASIC, FORTRAN en LISP aangeleer. Gates, Allen en twee ander vriende het die Lakeside Programmers' Group begin wie se eerste werklike werk die skryf van 'n betaalstaatprogram vir 'n plaaslike besigheid was. In 1972 het Gates en Allen Traf-O-Data gestig, 'n maatskappy wat gerekenariseerde motortelmasjiene aan plaaslike regerings verskaf het. In 1973 het Gates by Harvard University in Cambridge Massachusetts as 'n regstudent begin. Gedurende hierdie tyd is die eerste persoonlike rekenaar, die MITS Altair, bekend gestel en het die behoefte aan 'n gekondenseerde bedryfstelseltaal vir persoonlike rekenaars ontstaan. Gates en Allen het die uitdaging aanvaar en BASIC, 'n gewilde taal wat op groot rekenaars gebruik word, aangepas om die eerste sagteware vir persoonlike rekenaars te skep. In 1975 het Gates Harvard verlaat om Microsoft Corporation saam met Allen te stig.

In 1977 het Tandy Corporation vir Microsoft gehuur om sagteware vir sy Radio Shack rekenaars te ontwikkel en drie jaar later het International Business Machines Corporation (IBM) Microsoft gevra om 'n bedryfstelsel vir sy nuwe persoonlike rekenaars te verskaf. Microsoft het ook die hoofverskaffer van sagteware aan Apple Macintosh geword met die bekendstelling van die woordverwerkingsprogram Microsoft Word. Gates se droom "om 'n rekenaar op elke lessenaar en in elke huis te hê wat almal Microsoft sagteware gebruik," was besig om waar te word. Op 13 Maart 1986 het Microsoft Corporation op die aandelebeurs genoteer en binne 'n jaar het Microsoft aandele tot $90 elk toegeneem. Op die ouderdom van 31 het Gates, wat 45 persent van die Microsoft aandele besit, die jongste biljoenêr ooit geword.

Op Nuwejaarsdag 1994, op die ouderdom van 38, is Gates in Hawaii getroud met een van Microsoft se bemarkingsbestuurders, Melinda French. Hulle het twee kinders, Jennifer Katharine, gebore in 1996, en Rory John, gebore in 1999.

Bill en Melinda het 'n stigting geskep vir die ondersteuning van filantropiese inisiatiewe in die veld van gesondheid en onderrig. 'n Nuwe $5 biljoen-skenking in Januarie 2000 het dit die rykste stigting ter wêreld gemaak. Gates het ook persoonlike beleggings in ander hoëtegnologiemaatskappye.

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Bill Gates (kategorie)