Evangelie van Nikodemus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Groep wat Jesus in die graf lê. Die persoon links is Nikodemus.

Die Evangelie van Nikodemus is 'n Nuwe Testamentiese Apokriewe skrif en bestaan uit twee dele: Die Handelinge van Pilatus en Christus se besoek aan die doderyk. Die twee dele het onafhanklik van mekaar ontstaan en is later bymekaar geplaas om een boek te vorm. Die eerste deel van die Evangelie begin met 'n voorwoord deur iemand met die naam van Ananias. Hy maak die stelling dat hy die oorspronklike Hebreeuse rekords ten op sigte van Jesus se dood wat deur Nikodemus geskryf is, in die hande gekry en dit in Grieks vertaal het. Dit is nie waar nie en die skrywers van beide die boeke is onbekend maar daar word aanvaar dat die eerste gedeelte voor die tweede gedeelte geskryf is. Daar word vermoed dat Die Handelinge van Pilatus tussen 300 en 350 n.C. en Christus se besoek aan die doderyk tussen 450 en 550 n.C. geskryf is. Eers het hierdie verhale 'n geweldige invloed in die latere kerkgeskiedenis gehad. Meer as 500 kopieë het daarvan behoue gebly in Grieks, Latyn, Siries, Aramees en Georgiaans. Die twee verhale in hierdie Evangelie het egter geen geskiedkundige waarde nie.

Bron[wysig | wysig bron]

  • APOKRIEWE Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. Jan van der Watt, Francois Tolmie. 2005. ISBN 1-77000-192-1