David Pieter de Villiers Graaff

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
David Pieter de Villiers Graaff
David Pieter de Villiers Graaff, 1909
Bynaam 1ste Baronet
Gebore 30 Maart 1859
Villiersdorp, Kaapkolonie
Oorlede 13 April 1931
Kaapstad, Unie van Suid-Afrika
Nasionaliteit Suid-Afrika
Titel Minister van Finansies (MvF)
Beroep Ondernemer, Politikus
Termyn in amp 1915-1916
Voorganger Jan Christian Smuts
Opvolger Henry Burton
Graaff signiture B&W.png

Sir David Pieter de Villiers Graaff was 'n Suid-Afrikaanse nyweraar en kabinetsminister en die vader van sir David De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party van 1956 tot 1977 en grootvader van sir David Graaff, Volksraadslid vir Wynberg van 1987 tot 1989.

Graaff is in 1859 gebore op Villiersdorp in die Wes-Kaap, waar die plaaslike laer- en hoërskool later jare na hom genoem is, naamlik die Hoërskool De Villiers Graaff. Met die afsterwe van sy vader is hy in diens geneem deur sy oom, J. Anthony Combrinck, 'n vooraanstaande Kaapse slagter en word op vroeë ouderdom 'n bestuurder.

Toe Combrinck tot die politiek toetree, het Graaff en sy broer, sir Jacobus Arnoldus Graaff, die onderneming opgebou en die eerste moderne koelinstallasie in Suid-Afrika bekend gestel. Die onderneming het die Imperial Cold Storage and Supply Company geword, wat uiteindelik die ondersteuning van Cecil John Rhodes en Samuel Marks gekry het.

Graaff was 'n gesiene plaaslike politikus, was stadsraadslid van 1882 en burgemeester van Kaapstad van 1891 tot 1892. Hy skenk die burgemeestersketting aan die stad wat vandag nog gebruik word. Gedurende hierdie tydperk rig hy die eerste elektriese beligtingstelsel op met die opening in 1904 van die Elektriese Beligtingswerke Graaff. Hy was 'n groot ondersteuner van die Afrikanerbond en is as sulks verkies tot die Kaapse Wetgewende Vergadering (1891 - 1897) en van 1908 tot 1910 is hy minister sonder portefeulje in die kabinet van John X. Merriman. In 1911 verleen die Britse koning aan hom die titel baronet en die reg om as "sir" bekend te staan.

Na Uniewording word hy in die eerste algemene verkiesing in 1910 onbestrede verkies as Volksraadslid vir die kiesafdeling Namakwaland, maar in 1915 staan die Nasionale Party se A.H. Stander en die onafhanklike J. Studer teen hom. Graaff behaal 'n meerderheid van 432 stemme bo Stander. Hy bly LV tot 6 Februarie 1920.

Graaff was minister van openbare werke, pos en telegraafwese, toe minister sonder portefeulje van 1912 tot 1913 en minister van finansies van 1915 tot 1916. Hy het ook in 1914 in Londen as Hoë Kommissaris waargeneem. Hy is op 13 April 1931 in Milnerton naby Kaapstad oorlede, toe sy seun De Villiers Graaff sy titel geërf het.

Bronne[wysig]

  • Rosenthal, Eric, Encyclopaedia of Southern Africa, Juta and Company Limited, Kaapstad en Johannesburg, 1978.