Parow

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Parow
Ligging van Parow op 'n kaart (Kaapstad)
Parow
Parow
Koördinate: 33°54′0″S 18°36′0″O
Land Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Provinsie Wes-Kaap
Metropolitaanse Munisipaliteit Stad Kaapstad
Tydsone SAST (UTC+2)
Poskode 7499 (Busse)
7500 (Strate)

Parow is 'n groot voorstad noord van Kaapstad tussen Bellville en Goodwood.

Parow is genoem na kaptein Johann Heinrich Ferdinand Parow van Pruise, wie se skip, die Kehrwieder, in 1865 aan die kus van Tafelbaai gestrand het. Parow het spoedig besef dat die Tygervallei groot moontlikhede inhou en hy het hom landwaarts gewend en aanvanklik met grootvee handelgedryf. Hy het later met grond begin spekuleer en in 1886 die eienaar geword van die plase Tygervallei, Rustenburg en ander eiendomme in die omgewing waarop die dorpsgebied Parow later uitgelê is.

Ten tyde van ongeëwenaarde grondspekulasie en groot welvaart het kapt. Parow saam met ene kapt. Scharmberg en mnre. Wrensch en Weimar die Parow-landgoed-sindikaat gestig en die Parow-dorpsgebied uitgelê. Strate in die dorp is na hierdie stigters genoem. Kapt. Parow het die plaas Tygervallei later aan mnre. Joyce en McGregor verkoop. Die dorpsgebied Tyger Valley (nou Parowvallei), wat in 1944 by die munisipaliteit ingesluit is, is op hierdie plaas geleë. Kapt. Scharmberg het later die eienaar geword van Fairfield, wat nou deel van die munisipale gebied is.

Die NG gemeente Parow-Goodwood, wat vroeër wyke van die NG gemeente Durbanville was, het op 16 November 1917 afgestig en tien jaar later, in 1927, het die NG gemeente Parow onafhanklik geword. Parow het in September 1939 munisipale status gekry, maar is in 2000 weer ingelyf by die Kaapstadse Metro.

Kapt. Parow se teleskoop word steeds in die voorportaal van die raadsaal van Parow bewaar.

Sien ook[wysig]