William Butler Yeats

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Yeats Boughton.jpg

William Butler Yeats (1903)

Ierse digter en toneelskrywer


Handtekening
Yeats Signature.jpg


Literêre stroming
Simbolisme


Beduidende werke

Abbey1.jpg
The Celtic Twilight (1893)
The Tower (1928)
The Winding Stair and Other Poems (1933)
Collected Plays (1934)

William Butler Yeats ([ˈjeɪts]; * 13 Junie 1865 in Dublin, Ierland; † 28 Januarie 1939 in Menton, Frankryk) was 'n Ierse digter en toneelskrywer en een van die leidende figure van die 20ste eeuse literatuur.

As een van die voorste literêre persoonlikhede van die Ierse en Britse literêre lewe, wat ook in Ierse politiek belang gestel het, het Yeats in sy latere lewe twee ampstermyne as Ierse senator gedien. Yeats was 'n drywende krag agter die Ierse Literêre Herlewing (Irish Literary Revival), 'n beweging wat die Engelse kulturele invloed tydens die Victoriaanse tydperk ten gunste van Ierland se eie kulturele erfenis wou terugdring, en het saam met Lady Augusta Gregory, Edward Martyn en ander die Abbey Theatre in Dublin gestig wat hy in sy beginjare as direkteur bestuur het.

In 1923 was Yeats die eerste Ierse digter wat met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is. Die Nobelkomitee het na sy digkuns verwys as "geïnspireerde poësie wat op 'n gesofistikeerde wyse uitdrukking aan die gees van 'n hele nasie gee."

Yeats word algemeen as een van min skrywers beskou wat hulle beduidendste werke eers ná die toekenning van die Nobelprys geskep het, waaronder The Tower (1928) en The Winding Stair and Other Poems (1929).

Yeats was 'n boorling van Dublin waar hy ook sy opleiding ontvang het, maar het sy kinderjare in die Ierse graafskap Sligo deurgebring. In sy jeug het Yeats digkuns bestudeer en het hom al vroeg aangetrokke gevoel tot Ierse mitologie en okkultisme. Hierdie onderwerpe speel 'n belangrike rol in sy vroeë literêre fase wat rofweg tot die eeuwisseling van die 19de na die 20ste eeu voortgeduur het. Sy vroegste digbundel het in 1889 verskyn, met gedigte wat deur langsame versbeweging en invloede van Edmund Spenser, Percy Bysshe Shelley en die Pre-Rafaeliete gekenmerk is.

Vanaf 1900 het Yeats se digkuns meer fisiek en realisties geword. Hy het die transendente oortuigings van sy jeugjare laat vaar, alhoewel hy hom nog met fisiese en spirituele maskers asook sikliese lewensteorieë besig gehou het.