Kremetart

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Adansonia digitata)
Jump to navigation Jump to search

Kremetart
Baobob tree.jpg
'n Kremetartboom in die Ivoorkus
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Division:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Adansonia
Spesies
Sien teks

Die kremetart (baobabs, Adansonia), ook soms "aap-broodbome" genoem, is 'n genus van agt spesies van bome, inheems aan Madagaskar (met ses spesies), Afrika en Australië (een spesie op elke kontinent).

Die kremetartboom behoort tot die familie Bombaceae en staan ook bekend as die "onderstebo boom". Die boom, wat inheems is in Suid-Afrika, Madagaskar en Australië, is bladwisselend met 'n reusagtige, geswelde stam, dikwels in die vorm van 'n bottel, met yl, gedraaide takke en handvormig saamgestelde blare. Die lang, ovaalvormige vrugte ontwikkel uit groot, enkelvoudige blomme.

Die kremetartboom word sedert 1942 by wet beskerm. Die kremetartboom kom in die warm, dorre savanna streke van Afrika, van die Soedan tot in die Hoëveld, Madagaskar en Australië voor. Dit groei in sanderige en klipperige grond. Adansonia digitata, wat na ʼn Franse wetenskaplike, Michel Adanson, vernoem is, kan tot 25 m hoog word en 'n deursnee van tot 16 m bereik.

Die kremetartboom se stam is baie dik en geswel. Die takke, wat na die punt smaller word, spruit uit die kroon van die boom en groei min of meer horisontaal. In die winter lyk dit of die boom ontwortel is en met die wortels in die lug in die grond teruggeplaas is. Dr. David Livingstone het die kremetartboom op 'n keer 'n omgekeerde wortel genoem. Die bas is bruin tot grysbruin en redelik glad, terwyl die stam en takke hoofsaaklik uit waterhoudende vesels bestaan wat sag en sponsig is.

Tydens droogte krimp die stamme merkbaar, aangesien die kremetartboom dan die opgegaarde water gebruik. Vroeër is uitgeholde stamme as tydelike blyplek gebruik deur jagters, avonturiers en primitiewe volkere, en al selfs as pak- en melkkamer. Vanweë die veselrige aard van die hout en die hoë waterinhoud disintegreer die boom vinnig. Dit gebeur soms dat 'n bietjie rook skielik bo die stam verskyn.

Kort daarna is daar net stof, as en vesels van die boom oor. Die hout van die kremetartboom is dus waardeloos. Die blare van die jong kremetartboom is gewoonlik enkelvoudig saamgestel, maar namate die boom ouer word, word die blare handvormig saamgesteld en bestaan uit 5 tot 7 vingervormige lobbe. Die liggroen blare is spiraalgewys op die takke gerangskik.

Die blare word dikwels deur Swart stamme so as spinasie gekook. Die kremetartboom het groot, wit, wasagtige, gekreukelde blomme. Die blom kan 'n deursnee van tot 14 cm hê en hang onderstebo aan ʼn lang steel. Dit het baie geel meeldrade wat by die basis saamgesmelt is in 'n kort buisie waardeur die styl moet uitgroei. Die lewensduur van die blom is baie kort en wanneer dit gekneus word, gee dit ʼn onaangename reuk af en word bruin.

Die blom ontwikkel in 'n groot, lang en ovaalvormige vrug. Sodra die vrug ryp is, word die buitenste dop houtagtig en hard. Dit is bedek met fyn, digte haartjies. Binne die houtagtige vrug is daar 'n groot aantal klein, swart saadjies wat in die melerige vleis van die vrug vassit.

Die vleis of pulp gemeng met water is 'n verfrissende drankie. Die Swart stamme gooi ook die pulp by mieliemeel om die pap suur te maak. Olifante en bobbejane is lief vir die vrug van die kremetartboom. In Australië groei die bottelboom (Adansonia gregori), wat heelwat kleiner is as Adansonia digitata.

Spesies[wysig | wysig bron]

  • Adansonia digitataAfrika-kremetart (Noordoos-, Sentraal- & Suider-Afrika)
  • Adansonia grandidieri – Grandidier se kremetart (Madagaskar)
  • Adansonia gregorii (sinoniem A. gibbosa) – Boab of Australiaanse kremetart (Noordwes-Australië)
  • Adansonia madagascariensis – Madagaskar-kremetart (Madagaskar)
  • Adansonia perrieri – Perrier se kremetart (Madagaskar)
  • Adansonia rubrostipa (sinoniem A. fony) – Fony-kremetart (Madagaskar)
  • Adansonia suarezensis – Suarez-kremetart (Madagaskar)
  • Adansonia za – Za-kremetart (Madagaskar)

Die naam Adansonia is ter ere van die Franse ontdekker Michel Adanson.

Kulturele verwysings[wysig | wysig bron]

Die kremetart is die nasionale boom van Madagaskar.

Fotogalery[wysig | wysig bron]

Sien ook[wysig | wysig bron]

Bronne[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]