Senegal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
République du Sénégal (Frans)
Réewum Senegaal (Wolof)
Republiek Senegal
Vlag van Senegal Wapen van Senegal
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Un Peuple, Un But, Une Foi
(Frans vir: "Een volk, een doel, een geloof")
Volkslied: le Lion rouge
(Frans vir: "Die rooi Leeu")
Ligging van Senegal
Hoofstad Dakar

14°40′N 17°25′W / 14.667°N 17.417°W / 14.667; -17.417

Grootste stad Dakar
Amptelike tale FransWolof (lingua franca)
Regering Unitêre semi-presidensiële
republiek
Macky Sall
Mahammed Dionne
Onafhanklikheid
• van Frankryka
• Onttrekking van die
Mali-Federasie

20 Junie 1960

20 Augustus 1960
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
196 712[1] km2  (86ste)
75 951 myl2
2,1
Bevolking
 - 2016-skatting
 - 2016-sensus
 - Digtheid
 
15 411 614[2] (72ste)
14 668 522
68,7 / km2 (134ste)
177,9 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2019-skatting

$65,379 miljard[3]
$3 893[3]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2019-skatting

$26,004 miljard[3]
$1 548[3]

MOI (2017) Green Arrow Up Darker.svg 0,505[4] (164ste)  –  laag
Gini (2011) 40,3[5] –  medium
Geldeenheid CFA-frank (XOF)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
nie toegepas nie (UTC±0)
Internet-TLD .sn
Skakelkode +221
a. met Frans-Soedan binne die Mali-Federasie.

Senegal (Wolof: Senegaal; Frans: Sénégal), amptelik die Republiek Senegal (Wolof: Réewum Senegaal; Frans: République du Sénégal), is 'n land suid van die Sénégalrivier in Wes-Afrika. Senegal word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste, Mauritanië in die noorde, Mali in die ooste en Guinee en Guinee-Bissau in die suide. Gambië vorm 'n enklawe binne Senegal om die Gambiërivier vir meer as 300 km in die binneland in. Die Kaap Verde-eilandgroep lê ongeveer 560 km wes van die Senegalese kus af.

Nasa-Satellietbeeld van Senegal

Senegal beslaan 'n oppervlakte van 196 712 km² en het 'n bevolking van 15 411 614 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Dakar aan die westelikste punt van die vasteland van Afrika. Sedert 2014 word in Diamniadio 'n tweede regeringsetel opgerig.[6] Ander belangrike stede sluit in Thiès en Touba. Senegal vorm die mees westelike land op die vasteland van die Ou Wêreld en Afrika-Eurasië.[7] Die landsnaam is afgelei van die Sénégalrivier, wat dié land in die noorde en ooste begrens. Die naam "Senegal" is ontleen van die Wolof-woord "Sunuu Gaal", wat "ons boot" beteken. Die kremetartboom en die leeu vorm die twee nasionale simbole van Senegal; beide is in erkenning aan dié land se ryk natuurlewe gekies.[8]

Die gebied van Senegal vorm sedert die 12de eeu deel van die Islamitiese wêreld en is sedertdien deur verskeie Afrika-ryke oorheers. In 1895 het dit 'n Franse kolonie geword en in 1946 deel van die Franse Unie. Op 4 April 1960 het Senegal saam met Mali die Mali-Federasie gevorm en van Frankryk onafhanklik geword, maar dié federasie is reeds op 20 Augustus 1960 weer ontbind. Op 1 Februarie 1982 het Senegal saam met Gambië die Senegambië Konfederasie gestig, wat op 30 September 1989 weer ontbind is nadat Gambië geweier het om nader aan 'n unie te beweeg. Senegal spog met 'n stabiele demokrasie en ekonomiese groei. Dit is 'n lid van die Afrika-unie en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS).

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Prehistoriese megaliete in Senegal
Slawehandelaars in Gorée, 18de eeu
Senegal Gorée-eilandhawe, vroeër die sentrum van slawehandel in Wes-Afrika

Argeologiese ontdekkings in die hele gebied dui aan dat Senegal in prehistoriese tye bewoon was. Islam, die dominante geloof in Senegal, kom vir die eerste keer na die gebied in die 11de eeu. Vandag is 95% van die land se bevolking Moslems. In die 13de en 14de eeue kom die gebied onder die invloed van die Mandingo-ryke oos daarvan; die Jolof-ryk van Senegal word ook in die tydperk gestig. Verskeie Europese moondhede kom na die gebied vanaf die 15de eeu, totdat Frankryk in besit kom van wat 'n belangrike slawehandel vertrekpunt sou word.

Tydens die Sewejarige Oorlog (1756–1763) is die gebied van Senegal deur die Koninkryk van Groot-Brittanje beset en met die daaropvolgende Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk afgestaan. Nadat Frankryk die jonge Verenigde State van Amerika tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog (1775–1783) teen die Verenigde Koninkryk ondersteun het, het Senegal met die Vrede van Parys in 1783 'n Franse kolonie geword, terwyl Gambië Britse besit sou bly. Tussen 1902 en 1904 het die kortstondige Senegambië en Niger onder Franse koloniale gesag bestaan.

In Januarie 1959 smelt Senegal en Frans-Soedan saam om die Mali-Federasie te vorm wat ten volle onafhanklik word op 20 Junie 1960, as 'n uitvloeisel van die "Onafhanklikheid en oordrag van mag"-ooreenkoms wat op 4 April 1960 met Frankryk geteken is. As gevolg van politieke struikelblokke ontbind die Federasie op 20 Augustus 1960. Senegal en Frans-Soedan (herdoop tot die Republiek Mali) verklaar onafhanklikheid. Léopold Sédar Senghor word in Augustus 1960 verkies as Senegal se eerste president.

Na die ontbinding van die Mali-Federasie regeer president Léopold Sédar Senghor en eerste minister Mamadou Dia saam in 'n parlementêre stelsel. In Desember 1962 lei hulle politieke wedywering tot 'n staatsgreeppoging deur eerste minister Dia. Alhoewel dit sonder bloedvergieting onderdruk is, word Dia gearresteer en tronk toe gestuur. Senegal neem 'n nuwe grondwet aan wat die president se mag konsolideer. In 1980 besluit president Senghor om uit die politiek te tree en handig die leisels in 1981 aan sy keuropvolger, Abdou Diouf, oor.

Senegal verenig met Gambië in 'n nominale konfederasie, Senegambië, op 1 Februarie 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike separatiste groep in die Casamance-omgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Abdou Diouf was president tussen 1981 en 2000. Hy moedig breër politieke deelname aan, verminder regeringsbetrokkenheid by die ekonomie en verbreed Senegal se diplomatieke betrekkinge, veral met ander ontwikkelende lande. Binnelandse politiek loop per geleentheid oor tot straatgeweld, grensspanning en 'n gewelddadige separatiste beweging in die suidelike streek, Casamance. Nogtans versterk Senegal sy verbintenis tot demokrasie en menseregte. Diouf dien vier termyne as president. In die presidensiële verkiesing van 2000 word hy verslaan, in 'n vrye en regverdige verkiesing, deur opposisieleier Abdoulaye Wade. Senegal ondervind sy tweede vreedsame oorgang in mag en die eerste van een politieke party tot 'n ander.

Op 30 Desember 2004 kondig president Abdoulaye Wade aan dat hy 'n vredesverdrag met die separatiste groep in die Casamancegebied sou teken. Dit sal Wes-Afrika se langste burgerlike konflik tot 'n einde bring.

Geografie[wysig | wysig bron]

Kaart van Senegal

Senegal is geleë aan die weste van die Afrika-vasteland. Die Saharawoestyn is net noord een oos van van Senegal geleë en word deur die gelyknamige rivier van dié land geskei; Senegal maak dus deel uit van Afrika suid van die Sahara. Die noorde word deur die minder droë en meer vrugbare Sahel gekenmerk en die suide deur die Soedangebied. Laasgenoemde ontvang meer reënval as die Sahel en is geskik vir landbou.

Die Senegalese landskap bestaan hoofsaaklik uit golwende sanderige vlaktes van die westelike Sahel wat tot voetheuwels in die suidooste styg. Hier word ook Senegal se hoogste punt aangetref, 'n andersins naamlose 581 m hoë punt naby Nepen Diakha. Die noordelike grens word gevorm deur die Sénégalrivier, ander riviere sluit in die Gambia en die Casamancerivier. Die hoofstad Dakar lê op die Cap-Vert-skiereiland, die mees westelike punt van vasteland Afrika.

Die plaaslike klimaat is tropies met goed-gedefineerde droë en nat seisoene wat die gevolg van noordoostelike winterwinde en suidwestelike somerwinde is. Dakar se jaarlikse reënval van omtrent 600 mm vind plaas tussen Junie en Oktober wanneer die maksimumtemperatuur gemiddeld 27 °C is; Desember tot Februarie minimumtemperature is omtrent 17 °C. Binnelandse temperature is hoër as langs die kus en reënval styg heelwat verder suid en oorskry 1500 mm per jaar in sommige gebiede.

Politiek[wysig | wysig bron]

Hutte op die platteland
Die huidige president Macky Sall

Senegal is 'n republiek met 'n kragtige presidensie; die president is vroeër elke sewe jaar verkies – in 2001 aangepas tot elke vyf jaar – deur universele volwasse stemreg. Die huidige president is Macky Sall.

Senegal het ook 65 politieke partye wat bydra tot die ontwikkeling van die land deur suksesvolle oorgang na demokrasie. Die eenkamer nasionale vergadering het 120 lede wat afsonderlik van die president verkies word. 'n Enkelhuiswetgewer en 'n regverdige en onafhanklike regbank bestaan ook in Senegal. Die land se hoogste howe wat met sake-aangeleenthede handel is die grondwetlike raad en die geregshof waarvan die lede deur die president benoem word.

Senegal het 'n reputasie vir deursigtigheid in regeringsoptrede. Die vlak van ekonomiese korrupsie wat die ontwikkeling van die ekonomieë in ander dele van die wêreld benadeel het is laag. Vandag het Senegal 'n demokratiese politieke kultuur gebou op een van die mees suksesvolle demokratiese oorgange in Afrika. Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Straatverkopers in Senegal

Senegal se ekonomie steun veral op mynbou, konstruksie, toerisme, vissery en landbou wat die vernaamste bronne van inkomste vorm. In 2017 het die ekonomie met omtrent 7% tenoor 2016 gegroei. Van die belangrikste handelsvennote vir uitvoer (2017-syfers) sluit in Mali (14,8%), Switserland (11,4%), Indië (6%), Ivoorkus (5,3%), Verenigde Arabiese Emirate (5,1%), Gambië (4,2%) en Spanje (4,1%). Vennote vir invoer is Frankryk (16,3%), Volksrepubliek China (10,4%), Nigerië (8%), Indië (7,2%), Nederland (4,8%) en Spanje (4,2%).[9]

In Januarie 1994 onderneem Senegal 'n moedige en ambisieuse ekonomiese hervormingsprogram met die ondersteuning van die internasionale donateur gemeenskap. Die hervormings neem 'n aanvang met 'n 50 persent devaluasie van Senegal se geldeenheid, die CFA franc, wat teen 'n vaste koers met die voormalige Franse franc en tans die euro gekoppel is. Regeringsprysbeheer en subsidies word stelselmatig afgetakel. Nadat die land se ekonomie in 1993 met 2,1 persent gekrimp het, voer Senegal 'n belangrike ommekeer uit, danksy die hervormingsprogram, met reële groei in BBP van gemiddeld 5 persent per jaar in die periode 1995–2001. Jaarlikse inflasie is verminder na onder 1 persent, maar styg weer na 'n geskatte 3,3 persent in 2001. Beleggings styg stewig van 13,8 persent van BBP in 1993 tot 16,5 persent in 1997.

As 'n lid van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS) werk Senegal vir groter streeksintegrasie met gelykvormige eksterne tariewe. Senegal het ook reeds teen 1996 volle Internetverbinding bewerkstellig en daardeur 'n miniopbloei in inligtingtegnologie-gebaseerde dienste bewerkstellig. Privaat aktiwiteit bedra nou 82% van BBP. Aan die negatiewe kant staar Senegal die ernstige stedelike probleme in die gesig van kroniese werkloosheid, strydlustige vakunies, jeugmisdaad en dwelmverslawing.

Demografie[wysig | wysig bron]

Senegal se bevolkingsgroei (1961–2003)
Grande Mosquee de Ouakam, Senegal
Kerk in Popenguine
Op die strand by Mbour
Mark in Dakar

Senegal het 'n bevolking van sowat 15 miljoen, waarvan ongeveer 70% in landelike gebiede bly. Digtheid in die gebiede wissel tussen omtrent 77 km² in die wes-sentrale gebied tot 2 km² in die droë oostelike deel.

Etnisiteit[wysig | wysig bron]

Senegal het 'n wye verskeidenheid etniese groepe en gevolglik word veelvuldige tale gepraat. Frans is die amptelike taal maar slegs die geletterde minderheid gebruik dit gereeld. Van die ander tale is Wolof, Fula, Jola, Mandinka, Serer en Soninke.[9]

Die Wolof is die grootste enkele groep in Senegal op 37,1%, ander etniese groepe sluit in Fula (26,2%), Serer (17%), Mandinka (5,6%), Jola (4,5%), Soninke (1,4%), naas talle kleiner gemeenskappe.[9] Omtrent 50 000 Europeërs (meestal Franse) en Libanese woon in Senegal, hoofsaaklik in die stede. Onder dié in die stede tel ook enige Han-Chinese en Viëtnamese minderhede.

Godsdiens[wysig | wysig bron]

Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies. Islam is die oorheersende geloof, gevolg deur ongeveer 94 persent van die land se bevolking; die Christelike gemeenskap, teen 4 persent van die bevolking, sluit Rooms-Katolieke en diverse Protestante kerke in.

Islam[wysig | wysig bron]

Islamitiese gemeenskappe is in die algemeen georganiseer rondom een van verskeie Soefiordes of broederskappe, onder leiding van 'n khalif (xaliifa in Wolof, van Arabies khalīfah), wat gewoonlik 'n direkte nasaat is van die groep se stigter. Die grootste en mees prominente Soefiordes in Senegal is die Tijaniyya, waarvan die grootste deelgroepe gesetel is in die stede Tivaouane en Kaolack, en die Mur diyya (Murid), gesetel in die stad Touba. Die Halpulaar, 'n wydverspreide etniese groep wat al langs die Sahel van Tsjad tot Senegal aangetref word, verteenwoordigend 20 persent van die Senegalese bevolking, was die eerste om hulle tot Islam te bekeer. Die Halpulaar, saamgestel uit verskeie Fula-etniese groepe, genaamd Peul en Toucouleur in Senegal. Baie van die Toucouleurs, of gevestigde Halpulaar van die Senegalriviervallei in die noorde, het sowat 'n millennium gelede na Islam oorgeskakel en dra later by tot die verspreiding van Islam regoor Senegal. Meeste gemeenskappe suid van die Senegalrivervallei het egter nie geheel en al verislam tot die negentiende en vroeë twintigste eeue nie. Tydens die middel-negentiende eeu word Islam 'n belangrike vaandel waaronder weerstand teen die tradisionele aristokrasieë en Franse kolonialisme gevoer word, en Tij_n_ leiers Al-Hajj Umar Tall en Màbba Jaxu Ba vestig kortstondige, maar invloedryke Islamitiese state. Beide sterf egter in oorlog en hulle ryke word deur die Franse geannekseer.

Die uitbreiding van formele Koranse skole (genaamd daara in Wolof) tydens die koloniale tydperk, vermeerder grootliks as gevolg van die werk wat deur die Tijaniyya gedoen is. In Murid-gemeenskappe, wat meer klem lê op die werksetiek as op letterlike Koranse studies, word die term daara gereeld toegepas op werkgroepe toegewy aan werk vir 'n godsdienstige leier. Ander Islamitiese groepe sluit die veel ouer Qadiriyya orde en die Senegalese Laayeenorde in, wat prominent is onder die kus-Lebu. Vandag studeer meeste Senegalese kinders verskeie jare lank by daaras en memoriseer soveel van die Koran as wat hulle kan. Sommige sit hulle godsdienstige studie voort by informele Arabiese skole (majlis) of by die groeiende aantal privaat Arabiese skole en publiek befondsde Franko-Arabiese skole.

Christendom[wysig | wysig bron]

Klein Rooms-Katolieke gemeenskappe word hoofsaaklik aangetref in kus-Serer, Diola en Balant-bevolkings, en in oosterse Senegal onder die Bassari en Coniagui. In Dakar word Katolieke en Protestantse gebruike ook gehoorsaam deur 'n gedeelte van die Libanese, Kaap Verdiese, Europese en Amerikaanse immigrante bevolkings, en onder sekere van die inwoners van elders in Afrika. Alhoewel Islam Senegal se meerderheid godsdiens is, was Senegal se eerste president, Léopold Sédar Senghor, 'n Katolieke Serer.

Onderafdelings[wysig | wysig bron]

Die Gambiërivier kronkel deur die Niokolokoba Nasionale Park, Senegal

Senegal is onderverdeel in 14 administratiewe streke of 'regions':

  • Dakar
  • Diourbel
  • Fatick
  • Kaffrine
  • Kaolack
  • Kédougou
  • Kolda
  • Louga
  • Matam
  • Saint-Louis
  • Sédhiou
  • Tambacounda
  • Thiès
  • Ziguinchor

Plaaslike administrateurs word almal aangestel en is verantwoordelik aan die president. Senegal het met Gambië saamgesmelt om die nominale konfederasie van Senegambië te vorm in 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike seperatiste groep in die Casamanceomgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Kultuur[wysig | wysig bron]

Ousmane Sembène, die Senegalese skrywer en rolprentregisseur, word beskou as die "vader van die Afrikafilm". Ander vername skrywers sluit in Nafissatou Dia Diouf, Khady Hane en Khady Sylla.

Die "Afrika Renaissance-monument" is tussen 2006 en 2010 in Dakar opgerig en is tans die grootste standbeeld in Afrika.

Sport[wysig | wysig bron]

Senegalese stoei: Afrika-stoei wêreldtoer in Parys Bercy, Mame Balla teen Pape Mor Lô in Junie 2013
Senegalese sokkerondersteuners tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 in Rusland

Die meeste sportsoorte is deur die Franse na Senegal gebring, terwyl dié land ook oor 'n inheemse gewilde sport beskik. Sokker en stoei is die twee gewildste sportsoorte van Senegal, gevolg deur basketbal. In 2022 sal Dakar die Olimpiese Jeugspele huisves, die eerste Olimpiese Spele in Afrika.[10][11] Tussen 1979 en 2007 het die Dakar-tydren in Dakar geëindig, nadat dit in Parys begin het. Maar weens sekuriteitsbekommernisse in Mauritanië is die wedren in 2008 gekanselleer en in 2009 na Suid-Amerika verskuif.[12]

Stoei is Senegal se mees gewilde sport[13] en het 'n nasionale obsessie geword.[14] Dit dien tradisioneel baie jong mans om armoede te ontsnap en is die enigste sport wat onafhanklik van die Westerse kultuur ontwikkel het.

Sokker is een van die suksesvolste sportsoorte in Senegal. 2002 was tot dusver die suksesvolste jaar, nadat die Senegalese nasionale sokkerspan as naaswenner by die Afrikanasiesbeker in Mali en by die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 in Japan en Suid-Korea die verdedigende kampioen Frankryk kon klop en uiteindelik die kwarteindrondte sou bereik.

In basketbal is Senegal een van Afrika se suksesvolste lande en die mans se nasionale span kon in 2014 die uitspeelwedstryde bereik, die eerste Afrikaspan wat daarin kon slag. In 2016 het die NBA die bekendstelling van 'n Elite-akademie in Afrika, meer presies in Senegal, aangekondig.[15]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (fr) ANSD, besoek op 6 Augustus 2014.
  2. (en) World Population Prospects: The 2017 Revision”. United Nations Department of Economic and Social Affairs, Population Division. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) Senegal”. Internasionale Monetêre Fonds. URL besoek op 6 Augustus 2014.
  4. (en) 2018 Human Development Report”. United Nations Development Programme: 2018. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  5. (en) Senegal”. Wêreldbank. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  6. (en) Unravelling the mystery of Akon's Wakanda”. BBC: 23 Junie 2018. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  7. (en) Janet H. Gritzner, Charles F. Gritzner – 2009, Senegal – bl. 8
  8. (en) Senegal”. Encyclopædia Britannica. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  9. 9,0 9,1 9,2 (en) Senegal”. CIA World Factbook. Central Intelligence Agency. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  10. (en) Senegal to be 1st African Olympic host at 2022 Youth Games”. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  11. (en) Senegal first African nation to host an Olympic event”. 7 September 2018. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  12. (en) Hamilos, Paul (5 Januarie 2008). “Dakar rally cancelled at last minute over terrorist threat”. URL besoek op 21 Januarie 2019.
  13. (en) Sports in Africa: Communication and Media”. Ohio University. URL besoek op 3 April 2015.
  14. (en) Skelton, Rose (9 June 2011). “Wrestling As a Solution to Poverty in Senegal”. PRI. URL besoek op 3 April 2015.
  15. (en) NBA to open academy in Africa in 2017 – NBA.com”. URL besoek op 21 Januarie 2019.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Regering
Nuus
Oorsigte
Gidse
Musiek
Toerisme
Ander