Engelse en Walliese Krieketraad

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Engelse en Walliese Krieketraad
Kenteken van die Engelse en Walliese Krieketraad
Kenteken van die Engelse en Walliese Krieketraad
Engelse naam England and Wales Cricket Board
Afkorting ECB
Lande Vlag van Engeland Engeland en Vlag van Wallis Wallis
Sportsoort Krieket
Gestig op 1 Januarie 1997
Gestig in Londen, Engeland
Lid van Internasionale Krieketraad
Aangesluit in 1997
Vastelandse beheerliggaam Europese Krieketraad
Voorsitter Ian Watmore
Hoof- uitvoerende beampte Tom Harrison
Setel Lord’s, Londen, Engeland
Amptelike taal Engels
Amptelike webwerf ecb.co.uk

Die Engelse en Walliese Krieketraad (Engels: England and Wales Cricket Board, afgekort “ECB”) is die bestuursliggaam wat krieket in beide Engeland en Wallis beheer. Die raad is by die Internasionale Krieketraad (IKR) geaffilieer[1] en organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Engeland se nasionale seniorkrieketspan vir mans, vroue en jeug. Die Engelse en Walliese Krieketraad het reeds belangrike toernooie soos die krieketwêreldbekers in 1975, 1979, 1983 en 2019 aangebied, asook as medegasheer van die Krieketwêreldbeker 1999 (saam met Ierland, Nederland en Skotland) opgetree.

Die Raad bestaan sedert 1 Januarie 1997 en verteenwoordig Engeland en Wallis by die Internasionale Krieketraad.[2] Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Engelse en Walliese Krieketraad verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Engelse span. Die ECB se inkomste in die kalenderjaar van 2006 het £77 miljoen beloop.[3]

Voor 1997 was die Toets- en Countykrieketraad (Test and County Cricket Board, TCCB) die beheerliggaam van Engelse krieket, wat in 1968 dié tak by die Marylebone Cricket Club (MCC) oorgeneem het.[4] Die MCC het vanaf 1903 elke Engelse toer gereël.[4] Afgesien van die toetswedstryde het die Engelse span amptelik tot en met die 1976-toer na Australië in die jaar 1976/77 onder die MCC gespeel, wat die tyd weerspieël toe die MCC verantwoordelik was vir die samestelling van die toerspan. Die laaste keer wat die Engelse toerspan die MCC se “spek-en-eierkleure” gedra het, was tydens die 1996/97-toer na Nieu-Seeland.[5] In April 1998 is die Women's Cricket Association by die organisasie geïntegreer. Die ECB se hoofkantoor is op die Lord’s-krieketveld in Noordwes-Londen geleë.[6]

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Nes ander krieketnasies beskik Engeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[7] England Lions is die tweede nasionale span van Engeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Nes ander toetsnasies word die Engelse span vandag deur ’n keurkomitee saamgestel. Dit bestaan meestal uit ’n deur die ECB benoemde voorsitter, die hoofafrigter van die span en ’n verdere, deur die voorsitter benoemde persoon.[8] Die keurders benoem elke jaar die spelers, wat ’n sentrale kontrak ontvang, óf vir alle spanne óf vir een krieketvorm. Die benoemde spelers ontvang hul salaris van die Engelse beheerliggaam, maar hulle mag, as hulle nie internasionale krieket speel nie, vir hul countyklub speel.[9] Die keurders stel vir elke toer ’n span saam en die kaptein geniet die uiteindelike reg om te bepaal watter speler in watter wedstryd ingespan word.

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "England and Wales Cricket Board". Internasionale Krieketraad. Besoek op 24 Junie 2021.
  2. (en) "Memorandum submitted by the England and Wales Cricket Board (PF 82)" (PDF). Parlement van die Verenigde Koninkryk. Besoek op 24 Junie 2021.
  3. (en) "ECB Annual Report and Accounts 2006" (PDF). Engelse en Walliese Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 27 September 2007. Besoek op 7 Oktober 2007.
  4. 4,0 4,1 (en) Simon Wilde (2018). England: The Biography: The Story of English Cricket. Londen: Simon & Schuster India. ISBN 978-1-4711-5484-3.
  5. (en) "5 facts about English cricket history that you probably didn't know". Sportskeeda. Besoek op 24 Junie 2021.
  6. (en) "ECB | Contact us". Engelse en Walliese Krieketraad. Besoek op 24 Junie 2021.
  7. (en) Martin Williamson. "A brief history: The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 24 Junie 2021.
  8. (en) "Ed Smith named England national selector". BBC. 20 April 2018. Besoek op 24 Junie 2021.
  9. (en) "Jofra Archer, Rory Burns & Joe Denly handed England central contracts". BBC. 21 September 2019. Besoek op 24 Junie 2021.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]


Nasionale Krieketrade van die Internasionale Krieketraad Cricket pictogram.svg

AfghanistanAustraliëBangladesjEngelandIerlandIndiëNieu-SeelandPakistanSri LankaSuid-AfrikaWes-IndiëZimbabwe