Gaan na inhoud

Engelse en Walliese Krieketraad

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Engelse en Walliese Krieketraad
Kenteken van die Engelse en Walliese Krieketraad
Kenteken van die Engelse en Walliese Krieketraad
Engelse naam England and Wales Cricket Board
Afkorting ECB
Lande Vlag van Engeland Engeland en Vlag van Wallis Wallis
Sportsoort Krieket
Gestig op 1 Januarie 1997
Gestig in Londen, Engeland
Lid van Internasionale Krieketraad
Aangesluit in 1997
Vastelandse beheerliggaam Europese Krieketraad
Voorsitter Richard Thompson
Hoof- uitvoerende beampte Richard Gould
Setel Lord’s, Londen, Engeland
Amptelike taal Engels
Amptelike webwerf ecb.co.uk

Die Engelse en Walliese Krieketraad (Engels: England and Wales Cricket Board, afgekort “ECB”) is die bestuursliggaam wat krieket in beide Engeland en Wallis beheer en is op Lord’s, Londen, gesetel.[1] Dit verteenwoordig Engeland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by die Europese Krieketraad (European Cricket Council, “ECC”).

Van 1903 af het die Marylebone-krieketklub (MCC, kort vir Marylebone Cricket Club) al die toere van Engeland gereël.[2] Afgesien van die toetswedstryde het die Engelse span amptelik tot en met die 1976-toer na Australië in die jaar 1976/77 onder die MCC gespeel, wat die tyd weerspieël toe die MCC verantwoordelik was vir die samestelling van die toerspan. Die laaste keer wat die Engelse toerspan die MCC se “spek-en-eierkleure” gedra het, was tydens die 1996/97-toer na Nieu-Seeland.[3] Tussen 1968 en 1997 was die Toets- en Countykrieketraad (Test and County Cricket Board, TCCB) die beheerliggaam van Engelse krieket, wat dié taak by die MCC oorgeneem het. In April 1998 is die Women's Cricket Association geïntegreer by die organisasie.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vir tuiswedstryde is vanaf die As-reeks 1899 die nasionale span se keurbeleid verander. Vir die eerste keer het beide die MCC en die counties ’n selection committee (“keurkomitee”) saamgestel. Voorheen is die Engelse toetsspanne deur die gasheerklub saamgestel.[4] Daarin was drie destyds aktiewe amateurspelers: Grace, Lord Hawke en Warwickshire se kaptein Herbert Bainbridge. As gevolg van die keurkomitee se saamstelling is tydens die spelerkeuring aan amateurspelers weer die voorkeur gegee.[5]

In die 1990’s het die Engelse span swak presteer, een rede was die behoefte van countyspanne aan hul spelers, waarvolgens Engeland selde ’n volstoomspan tydens hul toere saamgestel het. Dit het uiteindelik tot die Engelse en Walliese Krieketraad se oorname by die MCC as die beheerliggaam van die Engelse span en die invoering van gesentraliseerde kontrakte gelei.[6][7][8] In die vroeë 1990’s het ook beide Ierland en Skotland hul bande met die Engelse en Walliese span verbreek en albei lande word sedertdien deur hul eie nasionale krieketspanne verteenwoordig.[9][10] Voorheen was die Engelse nasionale krieketspan as ’t ware ’n span wat die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland verteenwoordig het. Die Engelse en Walliese Krieketraad bestaan sedert 1 Januarie 1997 en verteenwoordig Engeland en Wallis by die Internasionale Krieketraad.[11]

Counyspanne in Engeland en Wallis volgens toernooi:

   Afdeling Een

   Afdeling Twee

   Nasionale counties

Die Engelse en Walliese Krieketraad organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Engeland se nasionale seniorkrieketspan vir mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Engelse en Walliese Krieketraad verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Engelse span. Die ECB se inkomste in die kalenderjaar van 2006 het £77 miljoen beloop.[12]

Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Engeland en Wallis. Net soos ander krieketlande beskik Engeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[13] England Lions is die tweede nasionale span van Engeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Die belangrikste krieketligas in Engeland is die County Kampioenskap in eersterangse krieket (18 spanne), die One-Day Cup in EDI-krieket (18 spanne) en die T20 Blast in T20-krieket (18 spanne). Die Engelse en Walliese Krieketraad het al opgetree as gasheer van belangrike toernooie soos die krieketwêreldbekertoernooie in 1975, 1979, 1983 en 2019, die Kampioenetrofeë in 2004, 2013 en 2017, die T20I-wêreldbeker 2009, asook as medegasheer van die Krieketwêreldbeker 1999 (saam met Ierland, Nederland en Skotland). Saam met Ierland en Skotland sal Engeland ook die T20I-wêreldbeker 2030 aanbied.[14]

Net soos ander toetslande word die Engelse span vandag deur ’n keurkomitee saamgestel. Dit bestaan meestal uit ’n deur die ECB benoemde voorsitter, die hoofafrigter van die span en ’n verdere, deur die voorsitter benoemde persoon.[15] Die keurders benoem elke jaar die spelers, wat ’n sentrale kontrak ontvang, óf vir alle spanne óf vir een krieketvorm. Die benoemde spelers ontvang hul salaris van die Engelse beheerliggaam, maar hulle mag, as hulle nie internasionale krieket speel nie, vir hul countyklub speel.[16] Die keurders stel vir elke toer ’n span saam en die kaptein geniet die uiteindelike reg om te bepaal watter speler in watter wedstryd ingespan word.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "ECB | Contact us". Engelse en Walliese Krieketraad. Besoek op 24 Junie 2021.
  2. (en) Simon Wilde (2018). England: The Biography: The Story of English Cricket. Londen: Simon & Schuster India. ISBN 978-1-4711-5484-3.
  3. (en) Soham Samaddar (15 Januarie 2018). "5 facts about English cricket history that you probably didn't know". Sportskeeda. Besoek op 24 Junie 2021.
  4. (en) Simon Wilde (18 Maart 2018). "Conspiracy, cock-up and class war". ESPNcricinfo. Besoek op 13 November 2023.
  5. (en) Martin Williamson (8 September 2017). "England v Australia 1890–1914". ESPNcricinfo. Besoek op 14 Februarie 2024.
  6. (en) "MCC History". Lord’s. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2012. Besoek op 18 Februarie 2012.
  7. (en) "About the England and Wales Cricket Board". Engelse en Walliese Krieketraad. Besoek op 13 November 2023.
  8. (en) "About the MCC". Lord’s. Besoek op 13 November 2023.
  9. (en) "The history or Cricket in Scotland". Krieket Skotland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2017. Besoek op 27 Januarie 2017.
  10. (en) Wisden Cricketers' Almanack (128 uitg.). John Wisden & Co Ltd. 1991. pp. 293 en 1321. ISBN 0-947766-16-2.
  11. (en) "Memorandum submitted by the England and Wales Cricket Board (PF 82)" (PDF). Parlement van die Verenigde Koninkryk. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 30 Augustus 2021. Besoek op 24 Junie 2021.
  12. (en) "ECB Annual Report and Accounts 2006" (PDF). Engelse en Walliese Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 27 September 2007. Besoek op 7 Oktober 2007.
  13. (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 13 November 2023.
  14. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 13 November 2022.
  15. (en) "Ed Smith named England national selector". BBC. 20 April 2018. Besoek op 24 Junie 2021.
  16. (en) "Jofra Archer, Rory Burns & Joe Denly handed England central contracts". BBC. 21 September 2019. Besoek op 24 Junie 2021.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]