Metrorail

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
'n Metrorail-trein verlaat die Kalkbaaistasie suid van Kaapstad.

Metrorail is Suid-Afrika se grootste pendelspoordiens en word deur PRASA besit. Metrorail se hoofmandaat ingevolge die Geregtelike Opvolgwet op die SATS-wet (Wet 9 van 1989) is om te verseker dat daar, op versoek van die Nasionale Departement van Vervoer of enige orgaan van die regering, spoorpendeldienste in die openbare belang voorsien word, en om spoor as die hoofmodus vir pendelvervoer te bevorder. Metrorail het besitreg op alle passassierspoorbates soos grond in en om stasies, infrastruktuur en die lopende vloot.

PRASA bedryf die pendelspoordienste oor 2 400 km spoorlyn deur Metrorail en vervoer meer as 2,2 miljoen passassiers op weeksdae in vyf groot metropole of gebiede, naamlik Johannesburg, Tshwane, Kaapstad, Durban en Oos-Kaap. Hierdie vyf gebiede sluit gesamentlik 478 stasies in met 'n vloot van so 270 treinstelle (wat sowat 3 100 waens in totaal bevat). Elke wa kan meer as 100 passasiers vervoer.

Vanaf 1 April 2008 bestuur SARCC die langafstand passassiersvervoer deur Shosholoza Meyl om uitvoering te gee aan 'n kabinetsbesluit in 2004 om 'n enkele passassierspoor-onderneming te skep.

Intersite Property Solutions is 'n dogteronderneming van Metrorail en is verantwoordelik vir die voorsiening van algehele eiendomsoplossings deur bestuur, konstruksie, opgradering en restourasie van stasies oor die hele netwerk.

Metrorail is in 1996 as 'n selfstandige besigheidseenheid van Transnet gestig. Sedertdien het Metrorail op pendelspoordienste in ses groot metropolitaanse gebiede gefokus terwyl dit ook vir die instandhouding van bedryfsbates verantwoordelik was. Die skeiding van batebestuur (SARCC) en bedryfsaktiwiteite (Metrorail) het egter 'n groot rol gespeel in die mislukking van hierdie entiteite om voldoende passassiersdienste te verskaf.

Streke[wysig]

Vir bedryfsdoeleindes word Metrorail se dienste in vier streke verdeel.

Kaart van Metrorail Gautengstreek
Gauteng streek

Die suidelike deel dek die Groter Johannesburg Metropolitaanse Gebied en omliggende gebiede. Treine loop vanaf Johannesburg en Germiston na Springs, Pretoria, Soweto, Krugersdorp en Randfontein via etlike stasies.[1]

Die noordelike deel dek Pretoria en omstreke. Treine loop vanaf Pretoria stasie weswaarts en ooswaarts na die omliggende voorstede, sowel as suidwaarts na Johannesburg via Kempton Park- en Germistonstasies.[1]

Kaart van Metrorail Durban
Durbanstreek

Hierdie streek dek Durban en die omliggende voorstede en dorpe. Treine loop van Durbanstasie buitentoe sover as KwaDukuza (Stanger) op die noordkus, Kelso op die suidkus, en Cato Ridge binneland toe.[1]

Kaart van Metrorail Oos-Kaap
Oos-Kaapstreek

Twee aparte lyne word gebruik in die Oos-Kaap: Treine loop vanaf Oos-Londen na Berlyn, en vanaf Port Elizabeth na Uitenhage.[1]

Kaart van Metrorail Wes-Kaap
Wes-Kaapstreek

Hierdie streek dek Kaapstad Metropolitaanse Gebied en omliggende dorpe. Treine loop van Kaapstad se stasie suidwaarts tot by Simonstad, suidoos na Mitchells Plein en Khayelitsha, en ooswaarts deur Bellville na Strand, Stellenbosch en Wellington; uitsonderlik loop dienste ook na Malmesbury en Worcester.[1]

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Metrorail (kategorie)

Verwysings[wysig]