Oekraïns

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Oekraïns
українська мова
Gepraat in: Vlag van Oekraïne Oekraïne
Vlag van Rusland Rusland
Vlag van Belarus Belarus
Vlag van Moldowa Moldowa
Vlag van Kasakstan Kasakstan
Vlag van Slowakye Slowakye
Vlag van Pole Pole 
Gebied: Oos-Europa
Totale sprekers: 47 miljoen[1] 
Rang: 26
Taalfamilie: Indo-Europees
 Slawies
  Oos-Slawies
   Oekraïns 
Skrifstelsel: Cyrilliese alfabet 
Amptelike status
Amptelike taal in: Vlag van Oekraïne Oekraïne
Vlag van Transnistrië Transnistrië
Gereguleer deur: Instituut van Oekraïns
Taalkodes
ISO 639-1: uk
ISO 639-2: ukr
ISO 639-3: ukr 
Verspreiding van Oekraïns

Oekraïns, ook gespel Oekraïens (Oekraïns: украї́нська мо́ва / ukrayins'ka mova), is die tweede mees gesproke van die twaalf oorlewende tale in die Slawiese groep van die groot Indo-Europese taalfamilie. In geografies-taalkundige opsig word dit saam met Russies en Wit-Russies as een van die Oos-Slawiese tale geklassifiseer. Net soos Slowaaks neem dit 'n sentrale posisie in aangesien sy taalgebied aan dié van enkele Wes-Slawiese tale grens. Vroeër het dit ook aan Bulgaars, 'n Suid-Slawiese taal, gegrens voordat die twee taalgebiede deur Roemeens en Hongaars van mekaar geskei is.[2]

Sodoende het Oekraïns 'n aandeel gehad aan die historiese ontwikkeling van al drie Slawiese taalgroepe - Oos-, Wes- en Suid-Slawies. Vandag grens die Oekraïnse taalgebied aan Russies in die ooste en noordooste, Wit-Russies in die noorde, en Pools, Slowaaks en drie nie-Slawiese tale - Hongaars, Roemeens en Moldawies - in die weste. Voordat Oekraïners hulle weer in die steppes van Suid-Oekraïne gevestig het, was dié streek 'n gebied waar Oekraïns met verskillende Turkiese tale soos Krim-Tataars in kontak gekom het.

Die taal word nie net in Oekraïne gepraat nie, maar ook in Wit-Rusland, Moldawië, Rusland en menigte ander lande. Soos Russies en Wit-Russies word dit in die Cyrilliese alfabet geskryf wat met enkele spesifiek Oekraïnse tekens aangevul is.

In Oekraïne word naas Oekraïns ook die tale Russies, Krim-Tataars, Roemeens, Hongaars, Bulgaars, Pools, Duits, Wit-Russies, Slowaaks, Grieks en Roma gepraat.

Oekraïns is nou verwant aan Russies, maar bevat 'n baie groot aantal Poolse leenwoorde, as gevolg van die feit dat Oekraïne eeue lank deel uitgemaak het van die Pools-Litause Gemenebes. In die suidoostelike helfte van die land oorheers Russies, in die noordwestelike helfte oorheers Oekraïns. Volgens die volkstelling van 2002 sou 67% van die burgers van die staat Oekraïns praat en 31% Russies.

In die tsaristiese Rusland was die skriftelike gebruik van Oekraïns (wat toe amptelik bekend gestaan het as die "Kleinrussiese dialek van die Russiese taal") verbode. Onder die Sowjetbewind het die taal beduidend meer erkenning gekry, maar het nog steeds teruggestaan vir Russies. Na die onafhanklikheid van Oekraïne (1991) is Oekraïns as die enigste amptelike taal erken, waardeur die posisie van die taal aansienlik versterk is. In die praktyk beklee Russies nog steeds 'n baie belangrike posisie. Na beramings het sowat 90% van die bevolking kennis van albei tale.

Verwysings[wysig]

Wikipedia
Sien gerus Wikipedia se uitgawe in Oekraïns
Indo-Europese tale: Satem-tale: Slawiese tale
Wes-Slawiese tale:
Kasjoebies | Polabies (†) | Pools | Slowaaks | Silesies | Sorbies (Neder-Sorbies, Opper-Sorbies) | Rusyn (Rusnak) | Tsjeggies
Oos-Slawiese tale:
Oekraïns | Russies | Rusyn (Roeteens) | Wit-Russies
Suid-Slawiese tale:
Bosnies | Bulgaars | Kroaties | Macedonies | Kerkslawies | Sloweens | Serwies
Wiktionary-logo-en.svg Vir woordeboekinligting, sien die bladsy Oekraïens op WikiWoordeboek