Limpopo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Hierdie artikel handel oor die provinsie in Suid-Afrika. Vir die gelyknamige rivier, sien gerus Limpoporivier.
Limpopo
Map of South Africa with Limpopo highlighted.svg
Oppervlak 125 754 vk km
Bevolking (2011)[1] 5 404 868
Bevolkingsdigtheid 43 / vk km
Tale[1] Sepedi (52,9%)
Xitsonga (17,0%)
Thsivenda (16,7%)
Afrikaans (2,6%)
Etniese verdeling[1] Swart (96,7%)
Blank (2,6%)
Kleurling (0,3%)
Asiër (0,3%)
Hoofstad Polokwane
(voorheen Pietersburg)
Premier
Stanley Mathabatha (ANC)

Limpopo is 'n provinsie in Suid-Afrika. Die hoofstad is Polokwane (voorheen Pietersburg). Die provinsie kry sy naam van die Limpoporivier wat die mees noordelike rivier in Suid-Afrika is en die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe vorm.

Limpopo het vroeër as die Noordelike Provinsie en voor 1994 as Noord-Transvaal bekend gestaan. Sedert 1994 sluit dit ook die voormalige tuislande Venda, Gazankulu en Lebowa in.

Belangrike plekke is Ellisras (Lephalale), Louis Trichardt, Messina (Musina), Phalaborwa, Potgietersrus (Mokopane), Thabazimbi en Warmbad (Bela Bela).

Besienswaardighede[wysig]

Die bekendste toeriste-aantrekkings in Limpopo is die Nasionale Krugerwildtuin, waarvan die noordelike gedeelte in Limpopo geleë is, die wêrelderfenisgebied van die Mapungubwe Nasionale Park, die Waterberg-bergreeks met die Welgevonden-natuureservaat, die warm mineraalbaddens van Warmbad (Bela-Bela) en ook Tshipise, die sogenaamde kulturele dorpe (Engels: cultural villages) van die plaaslike swart volke en die tradisionele stamgebied van die VhaVenda.

Die Vendabevolking in die Soutpansberg-streek en in die gebied van Modjadji, die opvolger van die legendariese Reënkoningin, beskik oor 'n ryk erfenis van legendes en mistiek. Die laaste opvolger van die Reënkoningin is in 2005 oorlede. Die heilige meer van die Venda, die Fundudzi-meer, het nog steeds sy eie (vroulike) priester.

Die Ivoorroete volg die spore van die vroeë ivoorjagters en goudhandelaars.

Vroeë geskiedenis[wysig]

Argeologiese opgrawings in Mapungubwe

Die wêrelderfenisgebied van die Mapungubwe Nasionale Park pronk met argeologiese vondse uit die tydperk van 'n magtige plaaslike koninkryk wat hier tussen 800 en 1290 n.C. bestaan het. Die oorblyfsels van 'n nedersetting uit die tydperk tussen die 15de en 17de eeu kan in Thulamela in die noordelike gedeelte van die Nasionale Krugerwildtuin besigtig word.

Demografie[wysig]

Tale gespreek in Limpopo ██ Afrikaans ██ Engels ██ Ndebele ██ Noord-Sotho ██ Swazi ██ Tsonga ██ Tswana ██ Venda ██ Geen meerderheidstaal

Volgens sensussyfers was Limpopo se totale bevolking 5 404 868 in die jaar 2011. Die tale van die plaaslike swart bevolking is Noord-Sotho of Sepedi (die moedertaal van 52,9 persent van die bevolking), Xitsonga (17 persent) en Thsivenda (16.7 persent). Die meeste blankes in die provinsie is Afrikaners (2,4%), en 2,6 persent van die bevolking praat Afrikaans as moedertaal.

Geografie[wysig]

Limpopo beslaan 'n oppervlakte van 125 755 vierkante kilometer en is hoofsaaklik wes en suid van die Limpoporivier geleë.

Ligging en topografie[wysig]

Limpopo word begrens deur Zimbabwe in die noorde, Botswana in die weste en Mosambiek in die ooste. Aan die suidekant van die provinsie lê die Suid-Afrikaanse provinsies Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Die Limpoporivier vorm Limpopo se grense met Botswana en Zimbabwe. Die provinsie het verskeie groot berge, met die Waterberg-, Strydpoortberg- en Drakensbergreeks in die suide en die Soutpansbergreeks in die noorde. Die subtropiese noorde is bosveld met kremetartbome, terwyl die weste meestal deur grasvlaktes gekenmerk word.

Distrikte[wysig]

Distrikte van Limpopo.

Daar is 5 distrikte in die provinsie, naamlik:

Ekonomie[wysig]

Landbou en mineraalmynbou vorm die ruggraat van die ekonomie in Limpopo en die toerismebedryf is ook goed ontwikkel. Daar is groot kopermyne in Musina en Phalaborwa. Minerale soos koper, asbes, steenkool, ystererts en platinum word ontgin. In die subtropiese noorde word lemoene, piesangs, avokado's, mango's, papajas, koejawels en lietsjies gekweek, en in die suide mielies, sonneblomme, katoen, druiwe en grondboontjies. Beesboedery word hoofsaaklik in die weste bedryf en in die omgewing van Tzaneen is tee-, sitrus- en bosbouplantasies aangelê.

Bronne[wysig]


Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 1,2 statssa.gov.za - 2011-sensus


Provinsies van Suid-Afrika Flag of South Africa
Gauteng | KwaZulu-Natal | Limpopo | Mpumalanga | Noord-Kaap | Noordwes | Oos-Kaap | Vrystaat | Wes-Kaap


Koördinate: 24°00′S 29°30′O