Rwanda

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Republic of Rwanda (Engels)
République du Rwanda (Frans)
Repubulika y'u Rwanda (Kinyarwanda)
Republiek van Rwanda
Vlag van Rwanda Seël van Rwanda
Vlag Seël
Nasionale leuse:
Ubumwe, Umurimo, Gukunda Igihugu
(Kinyarwanda vir: "Eenheid, Arbeid, Patriotisme")
Volkslied: Rwanda Nziza
(Kinyarwanda vir: "Pragtige Rwanda")
Ligging van Rwanda
Hoofstad Kigali

1°57′S 30°4′O / 1.950°S 30.067°O / -1.950; 30.067

Grootste stad Kigali
Amptelike tale Kinyarwanda, Frans en Engels
Regering Unitêre semi-presidensiële
republiek
Paul Kagame
Anastase Murekezi
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
• van België


1 Julie 1962
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
26 338 km2  (145ste)
10 169 myl2
5,3
Bevolking
 - 2015-skatting
 - 2012-sensus
 - Digtheid
 
11 262 564 (76ste)
10 515 973[1]
445 / km2 (29ste)
1 153 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2015-skatting

$20,343 miljard[2]
$1 784[2]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2015-skatting

$8,763 miljard[2]
$769[2]

MOI (2014) 0,483[3] (163ste)  –  laag
Gini (2010) 51,3[4] –  hoog
Geldeenheid Frank (RWF)
Tydsone
 - Somertyd
SAT (UTC+2)
nie toegepas nie (UTC+2)
Internet-TLD .rw
Skakelkode +250

Rwanda (Engels: [ruːˈɑːndə] of [ruːˈændə], ; Kinyarwanda: U Rwanda, [u.ɾɡwanda], ), amptelik die Republiek van Rwanda (Engels: Republic of Rwanda, Frans: République du Rwanda, Kinyarwanda: Repubulika y'u), is 'n landingeslote land in Sentraal- en Oos-Afrika en een van die kleinste lande op die vasteland van Afrika. Die land lê 'n paar grade suid van die ewenaar, en grens aan UgandaTanzaniëBurundi en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Rwanda is in die Groot Mere van Afrika-streek en lê baie hoog; sy geografie word oorheers deur berge in die weste en savanna aan die oostekant, met talle mere regdeur die land. Die klimaat is matig tot sub-tropies, met twee reënseisoene en twee droë seisoene per jaar.

Kaart van Rwanda
Die Rwandese president, Paul Kagame

Die bevolking is jonk en oorheersend landelik, met een van die digs bevolkte lande in Afrika. Rwandese kom uit net een kulturele- en taalgroep, die Banyarwanda, hoewel daar binne hierdie groep drie subgroepe is: die Hutu, Tutsi en Twa. Die Twa is die woudbewoners, die pigmee, wat Rwanda se oudste afstammelinge is. Navorsers verskil oor die oorsprong en verskille tussen die Hutu en Tutsi; sommiges glo dat die verskille sy oorsprong het uit die sosiale kastestelsel binne 'n enkele stam, terwyl ander weer glo dat die Hutu en Tutsi afsonderlik, en vanuit verskillende gebiede, in die land aangekom het. Christendom is die grootste geloof in die land en die vernaamste spreektaal is Kinyarwanda, wat deur die meeste Rwandese gepraat word, met Engels en Frans as ampstale. Die president is Paul Kagame van die Rwandese Patriotiese Front (RPF), wat sedert 2000 die land regeer. Korrupsie is min in Rwanda, in vergelyking met sy buurlande, maar menseregte-organisasies reken dat opposisiepartye en vryheid van spraak onderdruk word. Die land is sedert die voor-koloniale tydperk deur 'n opdraggewende administratiewe hiërargie regeer. Rwanda is net een van twee lande waar vroue die meerderheid in die parlement het.

Jagter-versamelaars het hul eerste gedurende die steen- en ystertydperke in die gebied gevestig met die Bantoevolke wat hulle gevolg het. Die bevolking is eers in familiegroepe saamgesnoer en later is 'n koninkryk gevorm. Die Koninkryk van Rwanda is sedert die middel-18de eeu deur 'n Tutsi-koning oorheers wat die ander militêr oorwin, die mag gesentraliseer, en later anti-Hutu beleide toegepas het. Die Duitse koloniale ryk het in 1884 vir Rwanda gekoloniseer as deel van Duits-Oos-Afrika, gevolg deur die Belgiese koloniale ryk wat die land in 1916 gedurende die Eerste Wêreldoorlog beset het. Beide Europese moondhede het deur die konings regeer en 'n pro-Tutsi beleid gevolg. Die Hutu-bevolking het in 1959 in opstand gekom. Hulle het talle Tutsis uitgemoor en uiteindelik daarin geslaag om in 1962 'n onafhanklike Hutu-beheerde staat te stig. In 1990 begin die Rwandese Patriotiese Front onder leiding van die Tutsi 'n burgeroorlog in die land. Vier jaar later slaan Hutu-ekstremiste terug met die 1994 volksmoord toe tussen 500 000 tot 1,3 miljoen Hutus en gematigde Tutsis voor die voet uitgemoor is. Die RPF het die volksmoord met 'n militêre oorwinning tot 'n einde gebring.

Rwanda se ekonomie het swaar gely met die 1994 Rwandese Volksmoord, maar kon sedertdien daarin slaag om te herstel. Die ekonomie bestaan hoofsaaklik uit bestaansboerdery. Koffie en tee is die vernaamste kontantopbrengste vir die uitvoermark. Toerisme is vinnig besig om toe te neem en die land se vinnigste groeiende mark vir buitelandse valuta. Die land is ook net een van twee lande waar toeriste veilig is om die gorillas in die misberge te kan gaan besigtig. Musiek en dans is 'n integrale deel van die Rwandese kultuur, in besonder die gebruik van tromme en die goed uitgewerkte intore-dans. Tradisionele kuns- en handewerk word oral in die land bedryf.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

'n Rekonstruksie van die koning van Rwanda se paleis by Nyanza

Die moderne menslike nedersettings van die hedendaagse Rwanda dateer terug, in sy vroegste tye, na die laaste glasiale tyd, in die Neolitikum-periode van omstreeks 8000 v.C., of uit die periode hierna van omstreeks 3000 v.C.[5] Argeologiese uitgrawings het op bewyse afgekom van yl nedersettings van jagter-versamelaars in die laat steentydperk, gevolg deur 'n groter bevolking in die vroeë ystertydperk, wat potte en ysterware gemaak het.[6][7] Hierdie eerste bewoners was die voorsate van die Twa, die pigmee jagter-versamelaars wat nog vandag in Rwanda is.[8] Tussen 700 v.C. en 1500 n.C. het 'n aantal van die Bantoevolke na Rwanda migreer en die woud skoongemaak vir landbouverbouing.[8][9] Die woudwonende Twa het die meeste van hul habitat verloor en na die berghange uitgewyk.[10] Historici het verskeie teorieë oor die aard van die Bantoe se migrasie. Een hiervan is dat die eerste setlaars die Hutu was, terwyl die Tutsi later gekom en 'n kenmerkende rasgroep, moontlik van Koesjitiese-oorsprong, in Rwanda geskep het.[11] 'n Alternatiewe teorie is dat die migrasie stadig en stelselmatig was, met die inkomende groepe wat eerder by die bestaande groepe ingeskakel, as hulle oorwin het.[8][12] Ingevolge dié teorie  het die Hutu en Tutsi kenmerke later ontwikkel en was eerder 'n klasseverskil as 'n rasverskil.[13][14]

Die Rwandese Volksmoord[wysig | wysig bron]

Skedels in die monument van Nyamata by die Rwandese hoofstad Kigali
Juvénal Habyarimana, president vanaf 1973 tot 1994. Die afskiet van sy vliegtuig het in 1994 die Rwandese volksmoord laat begin

Sedert 1959 het daar geweldige etniese konflik tussen die Hoetoe en die Toetsie ontstaan as gevolg van politieke verskille. Dit het in 1994 'n hoogtepunt bereik toe bykans 'n miljoen mense in Rwanda hul lewens verloor het. Die een groep het die ander nie lewensruimte in Rwanda gegun nie en 'n bittere haat het tussen die twee ontstaan. Wedersydse moorde het plaasgevind. Die konflik is in die meeste gevalle nie met bomme en gewere besleg nie, maar met pangas. Mans, vroue en kinders is voor die voet doodgekap. Een van die ergste gevalle van massamoord was toe honderde mense met pangas tereggestel is en die lyke in 'n kerk gelaat is om as afskrikmiddel te dien.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Oeste uit bestaansboerdery in die land sluit matoke (groen piesangs) in wat meer as 'n derde van Rwanda se landbougrond beslaan, asook aartappels, bone, patats, kassawe, koring en mielies.[15] Koffie en tee is die vernaamste kontantgewasse vir die uitvoermark. Die hoogte bo seespieël, steil hoogtes en vulkaniese grond skep uitstekende toestande vir koffie en tee-verbouiing. Rwanda se bestaan uit die uitvoer van landbouprodukte maak die land baie kwesbaar vir die wisselende internasionale pryse van landbouprodukte.[16] Diere wat in die land voorkom is beeste, bokke, skape, varke, hoenders en konyne wat wissel in getalle soos die landelike omgewing afwissel.[17] Die produseringsproses is hoofsaaklik tradisioneel van aard, hoewel daar 'n hele paar intensiewe suiwelplase rondom Kigali is.[17] 'n Tekort aan landbougrond en water, onvoldoende en swak gehalte van voer vir die diere en knaende epidemies en swak veeartsenydienste striem die suiwelbedryf baie erg. Daar word op die mere visgevang, maar die vis is baie uitgedun en daar word deesdae lewendige vis ingevoer om die visbedryf weer aan die gang te kry.[18]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) National Census Service (Februarie 2003). “The General Census of Population and Housing, Rwanda”. URL besoek op 4 Augustus 2014.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) Internasionale Monetêre Fonds (2015). “Rwanda”. URL besoek op 31 Oktober 2016.
  3. (en) 2014 Human Development Report Summary”. pp. 21-25 United Nations Development Programme: 2015. URL besoek op 31 Oktober 2016.
  4. (en) “[httphttp://data.worldbank.org/indicator/SI.POV.GINI Gini Index]”. Wêreldbank. URL besoek op 4 Augustus 2014.
  5. Chrétien 2003, p. 44.
  6. Dorsey 1994, p. 36.
  7. Chrétien 2003, p. 45.
  8. 8,0 8,1 8,2 Mamdani 2002, p. 61.
  9. Chrétien 2003, p. 58.
  10. King 2007, p. 75.
  11. Prunier 1995, p. 16.
  12. Mamdani 2002, p. 58.
  13. Chrétien 2003, p. 69.
  14. Shyaka, pp. 10–11.
  15. Our Africa.
  16. WTO 2004.
  17. 17,0 17,1 MINAGRI 2006.
  18. Namata 2008.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:

Algemeen

Toerisme


 
Lande en gebiede in Afrika

Lande: Algerië | Angola | Benin | Botswana | Burkina Faso | Burundi | Comore-eilande | Demokratiese Republiek van die Kongo | Djiboeti | Egipte | Ekwatoriaal-Guinee | Eritrea | Ethiopië | Gaboen | Gambië | Ghana | Guinee | Guinee-Bissau | Ivoorkus | Kaap Verde | Kameroen | Kenia | Lesotho | Liberië | Libië | Madagaskar | Malawi | Mali | Marokko | Mauritanië | Mauritius | Mosambiek | Namibië | Niger | Nigerië | Republiek van die Kongo | Rwanda | São Tomé en Príncipe | Senegal | Sentraal-Afrikaanse Republiek | Seychelle | Sierra Leone | Soedan | Somalië | Suid-Afrika | Suid-Soedan | Swaziland | Tanzanië | Togo | Tsjad | Tunisië | Uganda | Zambië | Zimbabwe

Omstrede gebiede: (Cabinda - Galmudug - Puntland) - Somaliland - Wes-Sahara
Afhanklike gebiede: Brits: Sint Helena, Ascension en Tristan da Cunha | Frans: Mayotte - Réunion | Portugees: Madeiraeilande | Spaans: Kanariese Eilande - Ceuta en Melilla

Lande van: Asië - Europa - Noord-Amerika - Oseanië - Suid-Amerika
Karibiese gebied - Midde-Ooste - Sentraal-Amerika