Tafelberg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Tafelberg
Table mountain.jpg
Panorama van die Tafelberg
Ligging: Wes-Kaap, Suid-Afrika
Hoogte: 1 086 meter
Koördinate: 33°57′S 18°25′O
Datum van eerste bestyging: 1503
Eerste bestyger(s): Antonio de Saldanha
Maklikste roete: stap
Tafelberg vanaf Leeukop gesien.

Tafelberg (Engels: Table Mountain) is 'n berg in Suid-Afrika wat uitkyk bo-oor Kaapstad en sy omgewings. Dit het 'n kenmerkende plat bokant en strek omtrent drie kilometer van punt tot punt.

As 'n mens suid oor die stad uitkyk na Tafelberg sien jy links (oos) die driehoekige Duiwelspiek (1 000 m) en regs die ronde Leeukop (669 m) en Seinheuwel. Dit is die noordelike punt van 'n reeks berge wat afstrek deur die lengte van die Kaapse Skiereiland. Die bokant word gereeld deur wolke bedek, bekend as die "tafeldoek".

Die berg se hoogste punt is by Maclear se baken. 'n Berugte gevaarlike ligging is Carrel se lys, wat 'n ononderbroke val (op die middel bo van die foto getoon) is, nie ver van Maclear se baken nie.

Tafelberg is ook in 'n unieke posisie deurdat dit die enigste aardskenmerk is wat sy naam aan 'n sterrebeeld ontleen: "Mensa", wat "die tafel" beteken. Die berg word regop gesien in die Suidelike Halfrond, onder Orion, rondom middernag in middel Julie. Dit is vernoem deur die Franse sterrekundige Nicolas de Lacaille gedurende sy verblyf aan die Kaap in die middel 18de eeu.

Die stad Kaapstad omring deesdae die berg; plaaslike inwoners gebruik die berg as 'n landmerk om rigting en afstand te skat soos hulle navigeer deur die stad.

Die kabelkar[wysig]

Tafelberg se kabelkar

Tafelberg het 'n kabelkar (of sweefspoor) aan die westelike hang wat besoekers na die kruin neem; dit is ook 'n gewilde toeristebestemming. Benewens die ongelooflike uitsig is daar 'n restaurant, kuriowinkels en duidelik gemerkte wandelpaaie bo-op die berg.

Die sweefspoor is net in werking tydens goeie weerstoestande, omdat sterk winde dit gevaarlik kan maak. Besoekers moet hul kabelkaruitstappie beplan vir mooiweersdae (wanneer daar nie 'n "tafeldoek" bo-op die berg lê nie), omdat dit die uitsig belemmer.

Die eerste kabelkar is geopen op 4 Oktober 1929, en 'n verbeterde kar is op 4 Oktober 1997 ingewy, wat die dravermoë van 25 tot 65 persone verbeter het. Die nuwe kar is rond en draai in die rondte terwyl dit beweeg, om 'n goeie uitsig aan almal te bied.

Op 10 Januarie 2014 is 'n besondere mylpaal bereik toe die kabelkar sy 23-miljoenste besoeker, Thamsanqo Welcome Peter, op die berg verwelkom het.

Bergklim en wandel[wysig]

Sien die "Eksterne Skakels"-afdeling laer af vir roetegidse. Tafelberg is nie 'n verskriklik gevaarlike berg nie, maar die volgende raad behoort gevolg te word:

  • Neem 'n hoed en sonroom saam, veral as jy nie gewoond is aan die Suid-Afrikaanse son nie.
  • Neem 'n warm kledingstuk saam, selfs as jy dink dat jy dit nie nodig gaan hê nie. Die weer is koeler aan die bokant, en verander vinnig. Jy kan jouself binne 'n wolk bevind, of dit kan koud en nat met 'n koue wind wees. As daar enige moontlikheid van gure weer is, neem waterbestande klere saam. Die bokant van Tafelberg is omtrent die enigste plek in die Kaapse Skiereiland wat ryp op koue wintersaande kry.
  • Neem water saam. Die bergstrome is drinkbaar, selfs as dit donkerbruin deur die plantegroei gekleur is, maar dit mag droog wees in die somer en 'n risiko van ontwatering bestaan.
  • Moenie vuurmaak buite die gemerkte areas nie: daar kom té veel bergvure in die somer voor. Daar is geen vuurmaakplek aan die bokant nie.
  • Neem 'n kaart of iemand saam wat die area ken.
  • Stel iemand in kennis waarheen jy gaan. Moenie alleen stap nie, en moenie van die pad afdwaal in die donker of mis nie. Daar is 'n paar afgronde en doodloopklowe wat fataal kan wees.
  • 'n Mens kan moontlik plek-plek ontvangs op jou selfoon kry (veral op plekke waar jy uitkyk oor die stedelike gebiede om die berg), maar moenie daarop reken nie.

Geologie[wysig]

Die boonste deel van die berg bestaan ​​uit Tafelbergsandsteen. Dit lê bo-op die Prekambrium Malmesbury skalie wat reeds ingedring is deur die Kaapse graniet. Die Kaapse graniet is duidelik sigbaar op die westelike kant van Leeukop.

Plante en diere[wysig]

Die plantegroei op die berg is die unieke en ryk Kaapse fynbos. 'n Geskatte 1 470 plantspesies word op die berg gevind.

Die mees algemene dier op die berg is die dassie, 'n dier soos 'n haas-grootte bruin marmot. Hulle kom veral saam voor by die boonste kabelkarstasie, waar hulle voed op oorskiet gemorskos. 'n Mens kan moontlik bobbejane, 'n paar slange en skilpaaie ook vind, asook 'n paar Himalaaise tahrs wat afstammelinge is van ontsnaptes uit 'n dieretuin in die 1930s; hulle is besig om uitgeroei te word op die berg. Die laaste leeu in die area is rondom 1802 doodgeskiet.

Geskiedenis[wysig]

Die eerste persoon wat gedokumenteer is om die berg te bestyg was Antonio de Saldanha in 1503. Drie damme, die Woodhead, Hely-Hutchinson en De Villiers reservoirs, is gebou in die 1800s om Kaapstad se watervoorsiening aan te vul, en 'n kabelkar wat na Kampsbaai afgedaal het is aangebou om materiale en mannekrag te vervoer. Die kabelkar is lank reeds vervang, maar die ankerpunte van die ou boonste stasie kan steeds gesien word. Kaapstad se watervereistes het lankal die damme se kapasiteit oorskry. Hulle maak dus nie meer deel uit van die watervoorsiening nie.

Die berg is beskerm in die 20e eeu, en is 'n nasionale park vanaf 1998.

Galery[wysig]

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Tafelberg (kategorie)