Verenigde Arabiese Emirate

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
دولة الإمارات العربية المتحدة
Dawlat al-ʾImārāt al-ʿArabiyyah al-Muttaḥidah
Verenigde Arabiese Emirate
Vlag van die Verenigde Arabiese Emirate Embleem van die Verenigde Arabiese Emirate
Vlag Embleem
Volkslied: عيشي بلادي
Ishy Bilady
(Arabies vir: "Lank lewe my Nasie")
Ligging van die Verenigde Arabiese Emirate
Hoofstad Aboe Dhabi

24°28′N 54°22′O

Grootste stad Doebai
Amptelike tale Arabies
Regering Federale presidensiële
monargie
De jure Nie-partydige
demokrasie
Khalifa bin Zayed
Al Nahyan

Mohammed bin Rashid
Al Maktoum
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
• van die Verenigde Koninkryk


2 Desember 1971
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
83 600 km2  (116de)
32 278 myl2
feitlik niks
Bevolking
 - 2013-skatting
 - 2005-sensus
 - Digtheid
 
9 205 651[1] (93ste)
4 106 427
99 / km2 (110de)
256 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$269,815 miljard[2] (49ste)
$29 176[2] (32ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$389,994 miljard[2] (29ste)
$43 185[2] (19de)

MOI (2013) 0,827[3] (40ste)  –  baie hoog
Gini (2008) 36[4] –  medium
Geldeenheid Dirham (AED)
Tydsone
 - Somertyd
GST (UTC+4)
nie toegepas nie (UTC+4)
Internet-TLD .ae, امارات.
Skakelkode +971

Die Verenigde Arabiese Emirate (Arabies: دولة الإمارات العربية المتحدة Dawlat al-ʾImārāt al-ʿArabiyyah al-Muttaḥidah) is 'n land in die Midde-Ooste en Asië. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is 'n federasie van sewe emirate - Aboe Dhabi (die grootste), Ajman, Doebai, Fujairah, Ras al-Khaimah, Sharjah en Umm al-Quwain - waarvan elkeen sy eie spesifieke karakter het.

Olie is die primêre bron van rykdom in die VAE, maar die emirate is besig om hul ekonomieë te diversifiseer. So word onder meer die toerisme- en handelsbedryf massief uitgebrei. Die ekonomiese welvaart het daartoe gelei dat die ou tradisies van die Arabiese kultuur in die VAE met 'n hipermoderne infrastruktuur en 'n kosmopolitiese leefstyl verbind word. Dit het ook baie buitelandse spesialiste en ander werknemers na die VAE gelok sodat die federasie tans 'n vinnige bevolkingsgroei van byna drie persent (soos in 2013) ervaar. Net sowat 'n vyfde van die meer as vyf miljoen Emiratis, soos die inwoners genoem word, is plaaslik gebore.

Die VAE het in die laat 20ste en 21ste eeu tot een van die mees dinamiese en hoogontwikkelde ekonomieë ter wêreld ontwikkel, en soms word na die federasie as die "Switserland van die Nabye Ooste" verwys.[5] In elk geval word die VAE met ambisieuse projekte en superlatiewe verbind, waaronder die hoogste gebou ter wêreld, die Burj Khalifa, die grootste moskee met plek vir 70 000 gelowiges, die langste voloutomatiese moltreinlyne en kunsmatige eilande soos The World en die palmeilande Palm Jumeirah en Jebel Ali.

Doebai en Aboe Dhabi, die twee grootste stede, het tot globale metropole en internasionale lugvaartsentrums ontwikkel, terwyl Emirates, 'n Doebai-gebaseerde lugredery, tot een van die grootstes wêreldwyd gegroei het.

Geografie[wysig]

Geologie[wysig]

Die Arabiese Plaat

Die Arabiese Skiereiland (wat in die geologiese konteks ook Arabiese Plaat genoem word) het oorspronklik deel gevorm van die Afrika-vasteland waarvan dit eers in die laat tersiêr (sowat 50 miljoen jaar gelede) en vroeë kwartêr geskei is. Tektoniese aktiweiteit in die aardkors het die Groot Skeurvallei gevorm, 'n slenkdal wat vanuit die Middellandse Seegebied in 'n suidelike rigting deur Ethiopië loop en verder suidwaarts tot in Zimbabwe strek en die Arabiese Skiereiland van die vasteland van Afrika skei. In die slenkdal tussen die Afrika-vasteland en die Arabiese Plaat het die Rooi See gevorm.

Nadat die westelike randgebiede van die skiereiland deur verdere tektoniese prosesse opwaarts gedruk is, het die hele plaat in 'n oostelike rigting begin beweeg. Hierdie proses, waarby die Arabiese teen die Eurasiese Plaat stoot en die Anatolies-Iranse Plooigebergte ontstaan het, duur steeds voort en veroorsaak onder meer verwoestende aardbewings in Iran. Tans beweeg die Arabiese Plaat met 'n snelheid van tussen twee en drie sentimeter per jaar in 'n noord-oostelike rigting, en daar word verwag dat die Persiese Golf oor vyf miljoen jaar nie meer sal bestaan nie.

Politiek[wysig]

Die Duitse Departement van Buitelandse Sake het die politieke bedeling in die VAE, 'n federale konstitusionele monargie, in 2007 as 'n "patriargaliese presidensiële stelsel met tradisionele konsultasiemeganismes" beskryf.[6] Die VAE se president word deur die sewe eerste ministers uit die geledere van die sewe emirs of premiers van die emirate gekies. Daar is geen politieke partye of algemene verkiesings volgens westerse parlementêre modelle nie.

Die parlement - die Federale Nasionale Raad (FNR) - het 40 afgevaardigdes waarvan die helfte deur die sewe heersers of premiers benoem en die ander helfte indirek verkies word. Ofskoon die FNR bevoegd is om wetsbesluite en verordeninge asook die bedrywighede van departemente en ministers te hersien, tree dit in die praktyk eerder raadgewend op. Die VAE se grondwet maak voorsiening vir die skeiding van magte, maar dit is die hoogste federale liggaam, die Hoogste Raad van die sewe heersers, waar die wetgewende gesag in die praktyk gesetel is. Aangesien hulle ook die uitvoerende gesag het en die staatshoof verkies wat op sy beurt die regering benoem, is die mag in die Hoogste Raad gekonsentreer.

Ekonomie[wysig]

Hoofkenmerke[wysig]

Die Verenigde Arabiese Emirate is die agtste grootste olieprodusent en beskik oor die wêreld se sesde grootste herwinbare olie- en die sewende grootste aardgasreserwes. Met 'n per capita-inkomste van sowat VSA-$ 50 000, bestendige ekonomiese groei en internasionale beleggingsbates ter waarde van enkele honderd miljard VSA-$ word die Emirate, wat as 'n ontwikkelende hoër-inkomste-ekonomie geklassifiseer word, van die welvarendste lande en grootste internasionale beleggers gereken. Die VAE se ekonomiese vryemarkbeleid plaas min beperkings op die privaat sektor, internasionale handel en kapitaalbewegings.

Volgens die Economist Intelligence Unit het die Emiratiese ekonomie in 2012 met drie persent gegroei, terwyl vir 2013 - afhangende van die beweging in die olieprys - tussen drie en vier persent voorspel word. Inflasie is onder beheer met minder as twee persent (0,9 persent in 2011 en 0,7 persent in 2012). Die relatief hoë olieprys verseker 'n hoë staatsinkomste en stabiele ekonomie groei. Die Emirate is besig om hul olieproduksie van sowat drie miljoen vate per dag op te stoot tot die maksimum van 3,5 miljoen vate.

Die VAE se ekonomiese beleid, wat veral deur die emiraat Aboe Dhabi finansieel gesteun word, is desondanks gemik op die diversifisering van die ekonomiese basis. Nuwe sleutelsektore sluit logistiek, handel, die organisering van handelskoue, toerisme en finansiële dienste (veral met betrekking tot Doebai) in, maar ook kapitaal- en energieintensiewe nywerheidsbedrywe soos staal- en aluminiumvervaardiging en petrochemie en hoë-tegnologiesektore (hernieubare energie en die vervaardiging van mikroskyfies). Daarnaas speel ook lugvaart 'n belangrike rol en lewer intussen byna 'n vyfde van die VAE se bruto binnelandse produk op. Doebai en Aboe Dhabi het vanweë hul gunstige geografiese ligging en strukturele voordele tot twee van die wêreld se voorste lugvaartsentrums ontwikkel.

Energiebedryf[wysig]

Die VAE is besig om hul energievoorsiening te diversifiseer, veral omdat die kragverbruik met jaarliks sewe persent skerp styging toon. Vanweë die relatief lae kragkoste, maar ook omdat die baie warm en dikwels vogtige klimaat lugreëling in geboue noodsaaklik maak, het die per capita-elektrisiteitsverbruik reeds 'n internasionale rekordvlak van jaarliks 12 000 kilowatt-ure bereik.

Naas konvensionele gasturbine-kragsentrales (wat dikwels as komplekse met meerdere kragsentrales bedryf en met seewaterontsoutingsaanlegte gekombineer word, soos onder meer in Al Taweelah in Aboe Dhabi en in Djabal Ali in Doebai) en kernaanlegte (vanaf 2017) word ook steeds meer in hernieubare energiebronne belê. Duursame energiebronne sal omstreeks 2020 na verwagting in tenminste sewe persent van die plaaslike energiebehoefte voorsien. 'n Belangrike internasionale agentskap vir hernieubare energiebronne, die Verenigde Nasies se International Renewable Energy Agency (IRENA), is in Aboe Dhabi gesetel.

'n Suid-Koreaanse konsortium onder leiding van die Korea Electric Power Corporation (KEPCO) het in 2009 opdrag gekry om vier APR-1400-kernreaktors (elkeen met 'n kraglewering van 1 400 MWe) ter waarde van VSA-$ 30 miljard op te rig. Boubedrywighede vir die eerste twee reaktors van die Barākah-aanleg in die uiterste weste van Aboe Dhabi het op 17 Maart 2011 begin. Die kernaanlegte sal in 'n kwart van die Emirate se kragbehoefte voorsien en na verwagting tussen 2017 en 2020 voltooi en in 2021 in bedryf gestel word.[7]

Demografie[wysig]

Meer as 50 persent van die inwoners is nie in die land gebore nie (in die omgang "expats" genoem). Weens die werkgeleenthede daar woon meer as twee miljoen mense van Suid-Asië soos Indiërs en Pakistanis in die Verenigde Arabiese Emirate; so ook baie duisende Suid-Afrikaners.

Godsdiens[wysig]

Meer as 70 persent van die land se inwoners is Moslems terwyl ongeveer tussen vyf en tien persent Rooms-Katolieke is wat van die Filippyne (wat hoofsaaklik Katolieke is) geïmmigreer het. 'n Verdere tien persent is Hindoes wat van Suid-Asië geïmmigreer het. 'n Groot mate van godsdiensvryheid bestaan; tot die mate dat Doebai 'n kerk spesifiek gerig op Suid-Afrikaners, die 'Afrikaanse Kerk van Doebai', huisves.

Verwysings[wysig]

  1. (en) Population (Total)”. Wêreldbank.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) Verenigde Arabiese Emirate”. Internasionale Monetêre Fonds. URL besoek op 14 Augustus 2014.
  3. (en) 2014 Human Development Report Summary”. pp. 21–25 United Nations Development Programme: 2014. URL besoek op 14 Augustus 2014.
  4. (en) Gini index”. Wêreldbank. URL besoek op 14 Augustus 2014.
  5. Dieter Matthew Schlesinger en Gabriele Katharina Scheuring (reds.): Vereinigte Arabische Emirate. Wirtschaft, kultur und geographische Strukturen. WRU-Berichte, Heft 34. Materialien und Forschungsberichte aus dem Lehrstuhl für Wirtschaftsgeographie der Universität München. München 2008, bl. 1. Teks aanlyn beskibaar: VAE (de)
  6. Sabine Wimberger: Dubai, Reiseziel der Zukunft. Eine kritische Betrachtung der Tourismusentwicklung aus ökonomischer, gesellschaftlicher und ökologischer Sicht. Proefskrif. Hamburg: Diplomica Verlag 2008, bl. 5
  7. Germany Trade and Invest, 30 April 2012: Aktuelle Trends aus den Vereinigten Arabischen Emiraten. Besoek op 1 Desember 2013

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:


 
Lande van Asië

Afghanistan | Armenië2 | Azerbeidjan1 | Bahrein | Bangladesj | Bhoetan | Broenei | Egipte | Filippyne | Georgië1 | Indië | Indonesië | Irak | Iran | Israel | Japan | Jemen | Jordanië | Kambodja | Kasakstan1 | Katar | Kirgisië | Koeweit | Laos | Libanon | Maledive | Maleisië | Mianmar | Mongolië | Nepal | Noord-Korea | Oesbekistan | Oman | Oos-Timor | Pakistan | Palestina | Rusland1 | Saoedi-Arabië | Singapoer | Siprus2 | Sirië | Volksrepubliek van Sjina (Sjina) | Sri Lanka | Suid-Korea | Tadjikistan | Thailand | Turkmenistan | Turkye1 | Verenigde Arabiese Emirate | Viëtnam

Omstrede gebiede: Abchasië - Nagorno-Karabach - Republiek van Sjina (Taiwan) - Suid-Ossetië - Turkse Republiek van Noord-Siprus

Afhanklike gebiede: Australië: Kerseiland - Kokoseilande | Verenigde Koninkryk: Akrotiri en Dhekelië2 - Britse Indiese Oseaangebied | Volksrepubliek van Sjina: Hongkong - Macau

1. Land deels in Europa. 2. Geografies in Asië, maar gereeld beskou as deel van Europa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings.

Lande van: Afrika Europa Noord-Amerika Oseanië Suid-Amerika