Senegal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
République du Sénégal
Republiek van Senegal
Vlag van Senegal Wapen van Senegal
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Un Peuple, Un But, Une Foi
(Frans vir: "Een Volk, Een Doel, Een Geloof")
Volkslied: le Lion rouge
(Frans vir: "Die rooi Leeu")
Ligging van Senegal
Hoofstad Dakar

14°40′N 17°25′W

Grootste stad Dakar
Amptelike tale Frans
Regering Semi-presidensiële
republiek
Macky Sall
Mohammed Dionne
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
• van Frankryka
• Onttrekking van die
Mali-Federasie


20 Junie 1960

20 Augustus 1960
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
196 712[1] km2  (87ste)
76 000 myl2
2,1
Bevolking
 - 2013-skatting
 - 2002-sensus
 - Digtheid
 
13 567 338[1] (67ste)
9 967 299
68,0 / km2 (134ste)
169,1 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2012-skatting

$26,574 miljard[2]
$2 026[2]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2012-skatting

$13,864 miljard[2]
$1 057[2]

MOI (2013) 0,485[3] (163ste)  –  laag
Gini (2011) 40,3[4] –  medium
Geldeenheid CFA-frank (XOF)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
nie toegepas nie (UTC±0)
Internet-TLD .sn
Skakelkode +221
a. met Frans-Soedan binne die Mali-Federasie.

Die Republiek van Senegal (Frans: République du Sénégal) is 'n land suid van die Sénégalrivier in Wes-Afrika. Senegal word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste, Mauritanië in die noorde, Mali in die ooste en Guinee en Guinee-Bissau in die suide. Gambië vorm 'n enklawe binne Senegal om die Gambiërivier vir meer as 300 km in die binneland in. Die Kaap Verde eilande lê ongeveer 560 km van die Senegalese kus af.

Geskiedenis[wysig]

Prehistoriese megaliete in Senegal
Slawehandelaars in Gorée, 18de eeu
Senegal Gorée-eilandhawe, vroeër die sentrum van slawehandel in Wes-Afrika

Argeologiese ontdekkings in die hele gebied dui aan dat Senegal in prehistoriese tye bewoond was. Islam, die dominante geloof in Senegal, kom vir die eerste keer na die gebied in die 11de eeu. Vandag is 95% van die land se inwoners Moslems. In die 13de en 14de eeue kom die gebied onder die invloed van die Mandingo-ryke oos daarvan; die Jolof-ryk van Senegal word ook in die tydperk gestig. Verskeie Europese moondhede kom na die gebied vanaf die 15de eeu, totdat Frankryk in besit kom van wat 'n belangrike slawehandel vertrekpunt sou word. Onafhanklikheid van Frankryk word in 1960 bereik.

In Januarie 1959 smelt Senegal en Frans-Soedan saam om die Mali-Federasie te vorm wat ten volle onafhanklik word op 20 Junie 1960, as 'n uitvloeisel van die "Onafhanklikheid en oordrag van mag"-ooreenkoms wat op 4 April 1960 met Frankryk geteken is. As gevolg van politieke struikelblokke ontbind die Federasie op 20 Augustus. Senegal en Frans-Soedan (herdoop tot die Republiek van Mali) verklaar onafhanklikheid. Léopold Senghor word in Augustus 1960 verkies as Senegal se eerste president.

Na die ontbinding van die Mali-Federasie regeer President Senghor en Eerste Minister Mamadou Dia saam in 'n parlementêre stelsel. In Desember 1962 lei hulle politieke wedywering tot 'n staatsgreeppoging deur Eerste Minister Dia. Alhoewel dit sonder bloedvergieting onderdruk is, word Dia gearresteer en tronk toe gestuur. Senegal neem 'n nuwe grondwet aan wat die President se mag konsolideer. In 1980 besluit President Senghor om uit die politiek te tree en handig die leisels in 1981 aan sy keuropvolger, Abdou Diouf, oor.

Senegal verenig met Gambië in 'n nominale konfederasie, Senegambië, op 1 Februarie 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike separatiste groep in die Casamance-omgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Abdou Diouf was president tussen 1981 en 2000. Hy moedig breër politieke deelname aan, verminder regeringsbetrokkenheid by die ekonomie en verbreed Senegal se diplomatieke betrekkinge, veral met ander ontwikkelende lande. Binnelandse politiek loop per geleentheid oor tot straatgeweld, grensspanning en 'n gewelddadige separatiste beweging in die suidelike streek, Casamance. Nogtans versterk Senegal sy verbintenis tot demokrasie en menseregte. Diouf dien vier termyne as President. In die Presidensiële verkiesing van 2000 word hy verslaan, in 'n vrye en regverdige verkiesing, deur opposisieleier Abdoulaye Wade. Senegal ondervind sy tweede vreedsame oorgang in mag en die eerste van een politieke party tot 'n ander.

Op 30 Desember 2004 kondig President Abdoulaye Wade aan dat hy 'n vredesverdrag met die separatiste groep in die Casamance gebied sou teken. Dit sal Wes-Afrika se langste burgerlike konflik tot 'n einde bring.

Geografie[wysig]

Kaart wat Senegal vertoon

Senegal is geleë aan die weste van die Afrika-vasteland. Die Senegalese landskap bestaan hoofsaaklik uit golwende sanderige vlaktes van die westelike Sahel wat tot voetheuwels in die suidooste styg. Hier word ook Senegal se hoogste punt aangetref, 'n andersins naamlose 581m hoë punt naby Nepen Diakha. Die noordelike grens word gevorm deur die Sénégalrivier, ander riviere sluit in die Gambia en die Casamancerivier. Die hoofstad Dakar lê op die Cap-Vert skiereiland, die mees westelike punt van vasteland Afrika.

Die plaaslike klimaat is tropies met goed-gedefineerde droë en nat seisoene wat die gevolg van noordoostelike winterwinde en suidwestelike somerwinde is. Dakar se jaarlikse reënval van omtrent 600 mm vind plaas tussen Junie en Oktober wanneer die maksimum temperatuur gemiddeld 27 °C is; Desember tot Februarie minimum temperature is omtrent 17 °C. Binnelandse temperature is hoër as langs die kus en reënval styg heelwat verder suid en oorskry 1500 mm per jaar in sommige gebiede.

Politiek[wysig]

Hutte in platteland
Die huidige president Macky Sall

Senegal is 'n republiek met 'n kragtige presidensie; die president is vroeër elke sewe jaar verkies – in 2001 aangepas tot elke vyf jaar – deur universele volwasse stemreg. Die huidige president is Macky Sall.

Senegal het ook 65 politieke partye wat bydra tot die ontwikkeling van die land deur suksesvolle oorgang na demokrasie. . Die eenkamer Nasionale Vergadering het 120 lede wat afsonderlik van die president verkies word. 'n Enkelhuiswetgewer en 'n regverdige en onafhanklike regbank bestaan ook in Senegal. Die land se hoogste howe wat met sake-aangeleenthede handel is die grondwetlike raad en die geregshof waarvan die lede deur die president benoem word.

Senegal het 'n reputasie vir deursigtigheid in regeringsoptrede. Die vlak van ekonomiese korrupsie wat die ontwikkeling van die ekonomieë in ander dele van die wêreld benadeel het is laag. Vandag het Senegal 'n demokratiese politieke kultuur gebou op een van die mees suksesvolle demokratiese oorgange in Afrika. Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies.

Ekonomie[wysig]

Straatverkopers

In Januarie 1994 onderneem Senegal 'n moedige en ambisieuse ekonomiese hervormingsprogram met die ondersteuning van die internasionale donateur gemeenskap. Die hervormings neem 'n aanvang met 'n 50 persent devaluasie van Senegal se geldeenheid, die CFA franc, wat teen 'n vaste koers met die voormalige Franse franc en tans die euro gekoppel is. Regeringsprysbeheer en subsidies word stelselmatig afgetakel. Nadat die land se ekonomie in 1993 met 2,1 persent gekrimp het, voer Senegal 'n belangrike ommekeer uit, danksy die hervormingsprogram, met reële groei in BBP van gemiddeld 5 persent per jaar in die periode 1995-2001. Jaarlikse inflasie is verminder na onder 1 persent, maar styg weer na 'n geskatte 3,3 persent in 2001. Beleggings styg stewig van 13,8 persent van BBP in 1993 tot 16,5 persent in 1997.

As 'n lid van die Wes-Afrika Ekonomiese en Monetêre Unie (WAEMU), werk Senegal vir groter streeksintegrasie met gelykvormige eksterne tariewe. Senegal het ook reeds teen 1996 volle Internet verbinding bewerkstellig en daardeur 'n miniopbloei in inligtingtegnologie-gebaseerde dienste bewerkstellig. Privaat aktiwiteit bedra nou 82% van BBP. Aan die negatiewe kant staar Senegal die ernstige stedelike probleme in die gesig van kroniese werkloosheid, strydlustige vakunies, jeugmisdaad en dwelmverslawing.

Demografie[wysig]

Senegal se bevolking 1961-2003

Senegal het 'n bevolking van sowat 10 miljoen, waarvan ongeveer 70% in landelike gebiede bly. Digtheid in die gebiede wissel tussen omtrent 77 km² in die wes-sentrale gebied tot 2 km²in die droë oostelike deel.

Etnisiteit[wysig]

Senegal het 'n wye verskeidenheid etniese groepe en gevolglik word veelvuldige tale gepraat. Frans is die amptelike taal maar slegs die geletterde minderheid gebruik dit gereeld. Die Wolof is die grootste enkele groep in Senegal op 43%, ander etniese groepe sluit in die Fula (24%), die Serer (15%), die Jola (4%), Mandinka (3%), naas talle kleiner gemeenskappe. Omtrent 50 000 Europeërs (meestal Franse) en Libanese woon in Senegal, hoofsaaklik in die stede. Onder dié in die stede tel ook enige Sjiinese en Viëtnamese minderhede.

Godsdiens[wysig]

Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies. Islam is die oorheersende geloof, gevolg deur ongeveer 94 persent van die land se bevolking; die Christen gemeenskap, teen 4 persent van die bevolking, sluit Rooms-Katolieke en diverse Protestante kerke in.

Islam[wysig]

Grande Mosquee de Ouakam, Senegal
Kerk in Popenguine
Op die strand by Mbour
Dakar mark

Islam gemeenskappe is in die algemeen georganiseer rondom een van verskeie Islam Sufi-ordes of broederskappe, onder leiding van 'n khalif (xaliifa in Wolof, van Arabies khal_fa), wat gewoonlik 'n direkte nasaat is van die groep se stigter. Die grootste en mees prominente Sufi-ordes in Senegal is die Tijaniyya, waarvan die grootste deel-groepe gesetel is in die stede Tivaouane en Kaolack, en die Mur diyya (Murid), gesetel in die stad Touba. Die Halpulaar, 'n wydverspreide etniese groep wat al langs die Sahel van Tsjad tot Senegal aangetref word, verteenwoordigend van 20 persent van die Senegalese bevolking, was die eerste om hulle tot Islam te bekeer. Die Halpulaar, saamgestel uit verskeie Fula etniese groepe, genaamd Peul en Toucouleur in Senegal. Baie van die Toucouleurs, of gevestigde Halpulaar van die Senegalriviervallei in die noorde, het sowat 'n millennium gelede na Islam oorgeskakel en dra later by tot die verspreiding van Islam regoor Senegal. Meeste gemeenskappe suid van die Senegalrivervallei, het egter nie geheel en al verislam tot die negentiende en vroeë twintigste eeue nie. Tydens die middel-negentiende eeu word Islam 'n belangrike vaandel waaronder weerstand teen die tradisionele aristokrasieë en Franse kolonialisme gevoer word, en Tij_n_ leiers Al-Hajj Umar Tall en Màbba Jaxu Ba vestig kortstondige, dog invloedryke Islamstate. Beide sterf egter in oorlog en hulle ryke word deur die Franse geanneksseer.

Die uitbreiding van formele Koraanse skole (genaamd daara in Wolof) tydens die koloniale tydperk, vermeerder grootliks as gevolg van die werk wat deur die Tijaniyya gedoen is. In Murid-gemeenskappe, wat meer klem lê op die werksetiek as op letterlike Koraanse studies, word die term daara gereeld toegepas op werkgroepe toegewy aan werk vir 'n godsdienstige leier. Ander Islam-groepe sluit die veel ouer Q_diriyya orde en die Senegalese Laayeen orde in, wat prominent is onder die kus-Lebu. Vandag studeer meeste Senegalese kinders verskeie jare lank by daaras en memoriseer soveel van die Koraan as wat hulle kan. Sommige sit hulle godsdienstige studie voort by informele Arabiese skole (majlis) of by die groeiende aantal privaat Arabiese skole en publiek befondsde Franko-Arabiese skole.

Christendom[wysig]

Klein Rooms-Katolieke gemeenskappe word hoofsaaklik aangetref in kus-Serer, Diola en Balant bevolkings, en in oosterse Senegal onder die Bassari en Coniagui. In Dakar word Katolieke en Protestantse gebruike ook gehoorsaam deur 'n gedeelte van die Libanese, Kaap Verdiese, Europese en Amerikaanse immigrante bevolkings, en onder sekere van die inwoners van elders in Afrika. Alhoewel Islam Senegal se meerderheid godsdiens is, was Senegal se eerste president, Léopold Sédar Senghor, 'n Katolieke Serer.

Onderafdelings[wysig]

Die Gambiërivier kronkel deur die Niokolokoba Nasionale Park, Senegal

Senegal is onderverdeel in elf administratiewe streke of 'regions':

Plaaslike administrateurs word almal aangestel en is verantwoordelik aan die President. Senegal het met Gambië saamgesmelt om die nominale konfederasie van Senegambië te vorm in 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike seperatiste groep in die Casamance omgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Kultuur[wysig]

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 (fr) ANSD, besoek op 6 Augustus 2014.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) Senegal”. Internasionale Monetêre Fonds. URL besoek op 6 Augustus 2014.
  3. (en) 2014 Human Development Report Summary”. pp. 21–25 United Nations Development Programme: 2014. URL besoek op 6 Augustus 2014.
  4. (en) Gini Index”. Wêreldbank. URL besoek op 6 Augustus 2014.

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Senegal (kategorie)
Regering
Nuus
Oorsigte
Gidse
Musiek
Toerisme
Ander
Wiktionary-logo-en.svg Vir woordeboekinligting, sien die bladsy Senegal op WikiWoordeboek


 
Lande in Afrika

Algerië | Angola | Benin | Botswana | Burkina Faso | Burundi | Comore-eilande | Demokratiese Republiek van die Kongo | Djiboeti | Egipte | Ekwatoriaal-Guinee | Eritrea | Ethiopië | Gaboen | Gambië | Ghana | Guinee | Guinee-Bissau | Ivoorkus | Kaap Verde | Kameroen | Kenia | Lesotho | Liberië | Libië | Madagaskar | Malawi | Mali | Marokko | Mauritanië | Mauritius | Mosambiek | Namibië | Niger | Nigerië | Republiek van die Kongo | Rwanda | São Tomé en Príncipe | Senegal | Sentraal-Afrikaanse Republiek | Seychelle | Sierra Leone | Soedan | Somalië | Suid-Afrika | Suid-Soedan | Swaziland | Tanzanië | Togo | Tsjad | Tunisië | Uganda | Zambië | Zimbabwe

Omstrede gebiede: Arabiese Demokratiese Republiek Sahara - Cabinda - Galmudug - Puntland - Somaliland
Afhanklike gebiede: Brits: Sint Helena, Ascension en Tristan da Cunha | Frans: Mayotte - Réunion | Portugees: Madeiraeilande | Spaans: Kanariese Eilande - Ceuta en Melilla

Lande van: Asië Europa Noord-Amerika Oseanië Suid-Amerika