N2 (Suid-Afrika)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf N2)
Spring na: navigasie, soek
Hierdie artikel bevat inligting oor die N2, een van Suid-Afrika se hoofpaaie.
Padteken van die N2.
Die N2 word in rooi aangedui

Die N2 is een van Suid-Afrika se 17 nasionale paaie. Dit is die hoofsnelweg aan die Suidkus van Suid-Afrika. Dit begin/eindig by Ermelo in Mpumalanga, en beweeg dan teen die kus van KwaZulu-Natal af, verby Durban, deur die Tuinroete, en die Oos-Kaap tot waar dit eindig in Kaapstad in die Wes-Kaap.

Roete[wysig]

Groot dorpe en stede langs die roete van die N2 sluit Kaapstad, Somerset-Wes, Caledon, Swellendam, Mosselbaai, George, Knysna, Humansdorp, Port Elizabeth, Grahamstad, King William's Town, Bhisho, Oos-Londen, Mthatha, Kokstad, Port Shepstone, Durban, KwaDukuza, Empangeni, Piet Retief en Ermelo in.

Wes-Kaap[wysig]

Die N2 wat in Kaapstad begin/eindig.
Die N2 tussen George en Mosselbaai.

Die N2 begin/eindig in sentraal Kaapstad by die noordelike end van die Buitengracht buite die ingang van die Victoria & Alfred Waterfront. Die eerste seksie van die N2 loop saam met die begin van die N1; dit is 'n vier-baan verhewe snelweg wat tussen die stadskern en die Kaapstadse hawe loop. Op die oostelike kant van die stadskern deel die pad in twee en die N2 draai in 'n suidelike rigting as Eastern Boulevard, oorkruis dan die spoorwerf en nader die spore van die Kaapstadse Treinstasie.

Die N2 daal tot grondvlak in Woodstock voordat dit die "Hospitaaldraai"-wisselaar (so genoem a.g.v. die ligging naby die Groote Schuur-hospitaal. In hierdie wisselaar smelt die N2 saam met die M3 om 'n enorme 10-baan snelweg te vorm voordat die twee weer verdeel. Omdat die Hospitaaldraai teen 'n helling lê is dit berug vir verkeersknope en ongelukke.

Na die Hospitaaldraai draai die N2 oos om as 'n ses-baan snelweg oor die Kaapse Vlakte te gaan na Somerset-Wes; hierdie gedeelte staan bekend as die Setlaarsweg. Langs hierdie roete kruis dit die M5, M7 en R300-deurpaaie; dit gaan ook verby die einde van die aanloopbaan van die Kaapstad Internasionale Lughawe. In Somerset-wes word dit verminder tot 'n onverdeelde snelweg en kruis verskeie ander paaie d.m.v. verkeersligte wat gereeld verkeersknope veroorsaak.

Oos van Somerset-Wes gaan die N2 deur Sir Lowryspas om die Overberggebied te betree. Dit gaan naby Grabouw op die Hottentots-Holland-plato verby en gaan dan af met die Houw Hoekpas na Botrivier. Na Botrivier gaan dit deur landerye deur dorpe soos Caledon, Riviersonderend, Swellendam en Riversdal om weer na die kus by Mosselbaai te swenk, wat die begin van die Tuinroete inlui.

Wes van Mosselbaai word die N2 weer 'n verdeelde snelweg en bly so tot die kruising met die N12 net buite George. Vandaar gaan dit oor die Kaaimansgat na Wildernis, verby Sedgefield tot by Knysna en Plettenbergbaai. Na Plettenbergbaai is 'n deel van die N2 'n tolpad; dit staan bekend as die Tsitsikamma Tolroete. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die Bobbejaansrivierbrug, Grootrivierbrug en die Bloukransrivierbrug wat gebou moes word. 'n Alternatiewe roete gaan deur Nature's Valley. Die Bloukransrivier en brug is die grens met die Oos-Kaap.

Oos-Kaap[wysig]

Die N2 oor die Bloukransbrug.

In die Oos-Kaap gaan die N2 oor die Groot Stormsrivierbrug en gaan naby aan Humansdorp en Jeffreysbaai verby voordat dit oor die Van Stadensrivierbrug gaan. Die pad is nou 'n vier-baan verdeelde snelweg deur Port Elizabeth word en eindig in Coega. Die N2 gaan verder in 'n noordoostelike rigting vanaf Port Elizabeth en beweeg weg van die kus in die rigting van Grahamstad; die N10 breek oppad weg van die N2 in die rigting van Middelburg in die binneland. Na Grahamstad gaan die N2 deur die voormalige Ciskei; by King William's Town draai dit terug na die kus en bereik dit Oos-Londen. Die N2 gaan verby Oos-Londen met 'n verbypad en ontmoet die N6, wat noordwaarts van Oos-Londen na Bloemfontein gaan.

Na Oos-Londen keer die N2 weer terug na die binneland om die moeilike terrein van die Wildekus te vermy. Dit gaan deur die voormalige Transkei. Die eerste dorp is Butterworth en dan Transkei se voormalige hoofstad Mthatha. Daarna gaan die pad deur Mount Frere en Mount Ayliff. Naby Kokstad betree die N2 KwaZulu-Natal.

KwaZulu-Natal[wysig]

Die N2 en die M65 naby Durban.

Van Kokstad draai die N2 weer terug na die kus en bereik die see by Port Shepstone. Vanaf Port Shepstone is dit 'n snelweg verby die oord-dorpe van die Natalse Suidkus insluitende Umzumbe, Hibberdene, Ifafa Strand, Scottburgh, Umkomaas en Amanzimtoti voordat dit met 'n verbypad om Durban gaan. By die EB Cloete wissellaar in Westville kruis die N2 en N3 nasionale pad vanaf Johannesburg.

Na Durban gaan die N2 verder aan as 'n snelweg langs die Natalse Noordkus. Dit gaan verby Umhlanga Rocks en na sowat 40 km die afdraai na die Koning Shaka Internasionale Lughawe. Dan gaan die pad by Ballito en Tongaat verby, met die snelweg wat by KwaDukuza eindig. Dit gaan by die hawe in Richardsbaai verby en draai noord en beweeg weg van die kus in die hartjie van Zoeloeland. Dit gaan naby aan St Lucia, St. Luciameer en die iSimangaliso-vleilandpark en Hluhluwe-Imfolozipark verby. Die N2 gaan dan verby die Pongolapoortdam. Dit swaai nader aan Swaziland naby die Golelagrenspos verby, draai dan wes en gaan deur Pongola voordat dit Mpumalanga betree.

Mpumalanga[wysig]

In Mpumalanga bly die N2 na aan die Swaziland-grens deur Piet Retief[1] waarvandaan dit noordwes gaan om in Ermelo te eindig. Ermelo is deur die N17 verbind met Johannesburg en Mbabane en met die N11 na Potgietersrus en Ladysmith.

Versteurings aan die roete[wysig]

Swaar reën het 'n modderstorting tot gevolg gehad op die Kaaimanspas tussen George en Wildernis. Dit het tot gevolg gehad dat die pad tydelik gesluit was van 26 tot 29 Augustus 2006. As gevolg van die modderstorting het 'n gedeelte van die pad ingesak en het groot krake in die padoppervlak begin verskyn. Na 'n inspeksie van 'n ingenieurspan is 'n enkele baan oopgemaak vir voertuie met 'n brutogewig van onder 5000 kg.

'n Alternatiewe roete op die Saasveldpad is in gebruik geneem maar die pad is slegs geskik vir een baan se verkeer en ligte voertuie. Swaarvoertuie moes 'n alternatiewe roete via die R62 en die Langkloof neem wat die afstand tussen George en Wildernis van 11 km tot meer as 600 km verleng het (news24.com berig). Grootskaalse herstelwerk is gedoen en die N2 is heropen.

Verkeer op die N2 is ook verskeie kere versteur deur protesoptogte. Op 11 September 2007 het inwoners van die Joe Slovo informele nedersetting die N2 in Kaapstad naby Langa versper. Die polisie het dit opgebreek deur rubberkoeëls op inwoners af te vuur en het 30 mense gewond.[2][3] Op 4 Desember 2008 het 'n paar duisend inwoners van eMachambini tussen KwaDukuza en Richardsbaai in KwaZoeloe-Natal die N2 versper in protes teen die voorgestelde AmaZulu Wêreld Temapark. Die polisie het ingegryp met 23 inwoners wat beseer is en 10 wat gearresteer is.[4]

Sien ook[wysig]

Verwysings[wysig]

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
N2 (Suid-Afrika) (kategorie)