Gereformeerde kerk Carletonville
Gereformeerde Kerk Carletonville | ||
Sluit in | Bank Blinkpan Blyvooruitzicht Deelkraal Doornfontein Elandsrand Oberholzer Oos-Driefontein Rysmierbult Welverdiend | |
Denominasie | Gereformeerd | |
Klassis | Wesrand | |
Huidige predikant(e) | Slabbert le Cornu | |
Belydende lidmate | 59 | |
Dooplidmate | 13 | |
Adres | H.v. Pewter- en Topazplek Carletonville | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 16 Mei 1953 | |
Afgestig van | Buffeldoorns | |
Eerste predikant | Fires Janse van Vuuren (1954–'64) |
Die Gereformeerde kerk Carletonville is ’n gemeente van die GKSA met sy middelpunt op die myndorp Carletonville, maar dit sluit ook onder meer Blinkpan, Blyvooruitzicht, Deelkraal, Doornfontein, Elandsrand, Oberholzer en Oos-Driefontein. Hoewel die gemeente eers in 1953 gestig is, is dit die naasoudste in die Klassis Wesrand. Die oudste, Krugersdorp, is in 1896 gestig as die eerste Gereformeerde kerk aan die Rand.
Stigting en kerkbou
[wysig | wysig bron]Met sy stigting op 16 Mei 1953 in ’n asbesgebou wat as skoolsaaltjie gedien het, het die gemeente dadelik besef hoe dringend ’n kerkgebou nodig was. Dit was egter onduidelik hoe dit sou gebeur en waar die geld vandaan sou kom.
Die skoolsaal van die Laerskool Danie Theron, wat nie elektriese beligting gehad het nie, moes vir eers voldoen. Op een van die drie erwe wat Carletonville by die moedergemeente, Buffeldoorns, gekry het, is in 1954 ’n pastorie gebou wat solank die predikant kon huisves. Die eerste leraar, ds. C.M. Janse van Vuuren, is dan ook op 20 November 1954 bevestig. Die kerkraad wou ’n kerk op Carletonville laat oprig, maar die gemeente het verkies dat die gebou op Fochville gebou word.
Ds. Janse van Vuuren het die kerk op die hoek van Pewter- en Topazplek, Carletonville, se hoeksteen op 7 Mei 1955 gelê. Dit bied sitplek aan 350 kerkgangers en die argitek was Beyers Hartman. Die gebou is op 8 Oktober daardie jaar in gebruik geneem, maar die gemeente het besluit ’n kerksaal was ook nodig. Die vrouelidmate het dié ideaal deur hul harde werk help verwesenlik en duisende koeksisters vir geldinsameling gebak; op ’n keer is selfs 730 dosyn aangeteken. Hierdie saal is op 1 Oktober 1977, tydens ds. A.H. Mulder se tyd, in gebruik geneem.
Lidmaattal
[wysig | wysig bron]In 1960 was hier 441 belydende en 372 dooplidmate, in 1997 was dit onderskeidelik 316 en 109, in 2014 102 en 22 en ’n jaar later net 83 en 19. Op die naburige Fochville het die Gereformeerde kerk Buffeldoorns, wat van 1949 tot 1958 bestaan het en weer van 1974 tot vandag, se lidmate het van onderskeidelik 258 en 107 in 1997 tot 183 en 38 in 2015 afgeneem.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Janse Van Vuuren, Cornelius Marthinus (Fires), 1954 – 1964
- De Bruyn, Frans Roelof Petrus, 1964 – 1974
- Mulder, Arnoldus Henderikus, 1974 – 1986
- Kruger, Izak Jacobus Vorster, 1986 – 2000
- Van der Merwe, dr. Rudolph Marthinus, 2000 – 2006
- Le Cornu, Slabbert, 2007 – hede
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Die kerkgebou, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 4 Januarie 2016.