Gereformeerde kerk Pinetown
Gereformeerde Kerk Pinetown | ||
Sluit in | Assagay Bothas Hill Cowies Hill Everton Forest Hills Gillitts Hillcrest Kloof Marianhill Moseley Park New Germany Pinetown Shongweni Waterfall West Riding Winston Park | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | KwaZulu-Natal-Suid | |
Huidige predikant(e) | A.J. (Andries) Burger | |
Belydende lidmate | 79 | |
Dooplidmate | 19 | |
Adres | Voortrekkerstraat 1 Ashley, Pinetown | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 5 Oktober 1986 | |
Afgestig van | Durban-Wes | |
Eerste predikant | D. Laufs (1986–'88) |
Die Gereformeerde kerk Pinetown is, soos die naam aandui, ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op Pinetown in KwaZulu-Natal
Die Gereformeerde kerk Durban het op 17 Desember 1954 ’n perseel op Pinetown gekoop en op 8 Junie 1957 is ’n kerksaal, bekend as die Amajuba-saal, op dié grond in gebruik geneem. Ds. P. de Klerk het die hoeksteen gelê. In 1970 is dié saal teen ds. De Klerk se sin verkoop.
In die loop van die dekade ná 1960 het die moedergemeente Durban so gegroei dat die 12 wyke wes van die ou Suidkuspad in 1968 as die Gereformeerde kerk Durban-Wes kon afstig. Mettertyd het die toename in Gereformeerdes in die Pinetown-deel van dié gemeente die afstigting van die Gereformeerde kerk Pinetown moontlik gemaak, en wel op 5 Oktober 1986. Aanvanklik is eredienste in ’n plaaslike skoolsaal gehou, maar die gemeente het van die begin af die behoefte aan ’n eie kerkgebou gevoel. Die plaaslike munisipaliteit het pogings om ’n kerkperseel te bekom teengestaan.
Die kerksaal van die NG gemeente Pinetown in Voortrekkerstraat, wat destyds as ’n preprimêre skool gebruik is, was in die mark. ’n Gemeentevergadering het op 25 Oktober 1992 besluit om dié saal te koop. Dit het kort voor lank bekendgestaan as Ons Klein Jerusalem. Francois Smith is as argitek aangestel en Bert Bouwers as bouaannemer om die restourasie van die saal te behartig. Op 26 November 1994 kon Pinetown sy sobere kerkgebou in gebruik neem. Die preekstoel is gemaak van hout uit die kroeg van ’n skeepswrak. NG lidmate van Pretoria het R5 000 vir die matte geskenk. Lidmate het banke gemaak. Die Nagmaaltafels is gemaak van skooltafels uit die Westridge-skool. Dié tafels is in die lengte deurgesaag en van ekstra pote voorsien.
Die afstigting van Pinetown het die moedergemeente Durban-Wes blykbaar so verswak dat dié gemeente in 1990 ontbind en die oorblywende lidmate ds. H.B. Coetzee by die moedergemeente Durban ingeskakel het. Pinetown het einde 2001 155 belydende lidmate gehad, maar einde 2014 net 81, vergeleke met die NG gemeente Pinetown se 748 einde 2001 en 327 einde 2014.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Laufs, Dirk, 1982–1988 (terwyl hy leraar was van Durban-Wes)
- Van Helden, Maarten, 1988–1997
- Kruger, Joseph Johannes Fritz, 1998–2003
- Van Wyk, dr. Hendrik Francois, 2004–2009
- Venter, Henning Vorster, 2011 – 2016 (aanvaar 'n beroep na die Gereformeerde kerk Windhoek)
- Burger, A.J. (Andries), 2017 – hede
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Die Gereformeerde kerk Pinetown, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 28 November 2015.