Gereformeerde kerk Ficksburg
Gereformeerde Kerk Ficksburg | ||
Sluit in | Clocolan Fouriesburg Lesotho (deels) Rosendal | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | Klassis Oos-Vrystaat | |
Huidige predikant(e) | Vakant | |
Belydende lidmate | 42 | |
Dooplidmate | 7 | |
Adres | H.v. Veldt- en Kerkstraat Ficksburg | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 10 Mei 1919 van die Gereformeerde kerk Ladybrand | |
Afgestig van | Ladybrand | |
Eerste predikant | Ds. D.P. du Plessis (1920–'41) |
Die Gereformeerde kerk Ficksburg is ’n gemeente van die GKSA in die Oos-Vrystaat met sy middelpunt op die dorp Ficksburg, maar dit sluit ook Clocolan, Fouriesburg, Rosendal en Lesotho in. Einde 2014 het die gemeente 65 belydende en 19 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 89 en 59 einde 2001.
Voorgeskiedenis
[wysig | wysig bron]Die ontstaan van die Gereformeerde kerk Ficksburg kan teruggevoer word tot 1903 toe twee Gereformeerde gesinne, die Viljoens en Buitendags, van Philipstown na Ficksburg verhuis het. Kort voor lank was daar 14 Doppergesinne in die omgewing. Die Gereformeerdes het net die volgende jaar (1904) by die dorpsraad aansoek gedoen om ’n kerkerf waarop hulle ’n plek van samekoms kon oprig, maar 12 jaar sou verloop voor dié gebou oprig kon word.
In 1906 het ds. J.C. Kruger met eredienste op Ficksburg begin, maar toe was dit nog meestal in privaat woonhuise. In 1916 kon die gemeente met die bou van sy sandsteenkerk begin. Die argitek sowel as bouaannemer was diaken D.J. Viljoen. Ds. H.P.J. Pasch het die hoeksteen op 6 Oktober 1917 gelê.
Stigting en vooruitgang
[wysig | wysig bron]Ficksburg het op 10 Mei 1919 van die Gereformeerde kerk Ladybrand afgestig en terselfdertyd hul kerkgebou in gebruik geneem. ’n Pomporrel is uit Kanada ingevoer, een van net vier wat in die land aangekom het. Dis per trein van die hawe (die bron vermeld nie watter een nie, maar moontlik Durban) na Ficksburg vervoer.
In 1953, toe ds. J.H. Venter die leraar was, is beplan vir ’n groter en doelmatiger kerkgebou. Hy het die hoeksteen van die gebou op 4 Desember 1953 gelê en op 11 Oktober 1955 het die gemeente dit in gebruik geneem.
Die Gereformeerde kerk Senekal het in 1961 van Ficksburg afgestig toe reeds op Senekal asook Marquard Gereformeerde kerkgeboue gestaan het.
Galery
[wysig | wysig bron]-
Die ou Gereformeerde kerk Ficksburg, wat van 1919 tot 1955 in gebruik was.
-
Ds. Abraham Liebrecht Aucamp, leraar van 1942 tot 1948 (in kombinasie).
-
Ficksburg se eerste kerkraad ná afstigting van Ladybrand. Ds. Hendrikus Pasch van die moedergemeente sit in die middel.
-
Mev. (ds.) A. Duvenage, predikantsvrou van 1949 tot 1952.
-
Ds. P.J. Malan, sy vrou, Mienie, en hul oudste twee seuns, Johan (links) en Jaco, die oudste kind. Ds. Malan was die predikant in die 18 maande tot sy dood in Julie 1977.
-
Ds. D.C.S. van der Merwe, leraar van 1978 tot 1982.
-
Mev. (ds.) D.C.S. (Annie) van der Merwe, pastoriemoeder van 1978 tot 1982.
-
Dr. Kobus van Tonder, leraar van 1982 tot 1984.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Du Plessis, Dirk Postma, 1920 – 1941
- Aucamp, Abraham Liebrecht, 1942 – 1948 (in kombinasie)
- Duvenage, Abraham, 1949 – 1952
- Venter, Jan Hendrik, 1953 – 1966
- Breedt, Johannes Jacobus, 1969 – 1975 (in kombinasie met Senekal)
- Malan, Petrus Jacobus, 1977 – 5 Julie 1977 (oorlede in die amp)
- Van der Merwe, dr. Daniël Charl Stephanus, 1978 – 1982
- Van Tonder, dr. Jacobus Machiel, 1982 – 1984
- De Kock, Jacobus Johannes, 1985 – 1990
- De Beer, Hendrik Johannes Petrus, 1990 – 1999
- Du Plessis, Lourens Stephanus Daniël, 1999 – 2003
- Putter, Christiaan Johannes Jacobus, 2003 – 2006
- Smidt, Marthinus Johannes, 2006 – 2017
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.